Het jy nou net JIP oopgemaak en heel eerste vandag se Kaaskrul gelees?
Toemaar, ek voel nie seergemaak nie, want ek weet hoe belangrik dit vir die gesondheid is om 'n bietjie (of baie) te lag.
Ek het navorsing gedoen oor 'n oefening wat goed is vir jou hart, longe, spiere én gees.
Almal het al dié oefening gedoen; en nee, dit was nie in die gim nie. Die oefening waarna ek verwys, is lag. Good ol' "crack me up", "LOL", "breek myself", "piepie-in-my-broek"-lag!
Lag is die aansteeklikste ding wat daar is. As iemand langs jou staan en kliphard uit sy maag lag, sonder ophou, kan jy mos nie help om saam met hom (of vir hom) te lag nie.
Dis boonop baie voordelig. Wanneer laas het jy 10 minute lank so gelag dat jy in 'n bondeltjie op die vloer gekrul en met jou arms om jou maag gelê het en die trane sommer by jou wange afstroom?
Wel, as jy het, sal jy bly wees om te weet 10 minute se skaterlag is volgens dr. William Fry, 'n Amerikaner, die ekwivalent van 30 minute op 'n roeimasjien in die gimnasium.
As jy 10 minute lank lekker uit jou maag lag, verbrand jy omtrent 50 kalorieë, het wetenskaplikes van die Vanderbilt-universiteit in Nashville, Tennessee, bevind.
Dink só daaraan: Jy kan 'n paar blokkies tjoklit sonder skuldgevoelens eet as jy weet jy het 'n goeie humorsin. Jy kan daardie sjokolade in 'n uur weglag. Goeie nuus, nè, meisies?
Lag verbeter nie net gesondheid nie. 'n Mens kry minder lagplooie as fronsplooie, omdat jy 13 gesigspiere gebruik om te lag, maar 47 om te frons.
Buiten al hierdie fisieke voordele, laat lag jou ook emosioneel beter voel, omdat jy die goedvoel-hormoon, endorfien, afskei wanneer jy lag, net soos wanneer jy oefen.
Dus, hoe meer jy lag, hoe beter jou dag.
Gaan ruil daarom daardie gim-lidmaatskap in en koop eerder 'n goeie DVD van Evita Bezuidenhout.
So iets is soos Botox vir jou glimlag en drafskoene vir jou lag.
Die komediant Milton Berle het nie verniet gesê lag is soos 'n kitsvakansie nie.
Lizelle Pistorius is een van JIP se JJ's. Sy is in gr. 11 aan die Hoërskool Middelburg in Mpumalanga.