L vir Learner

  • 25
    like dit
  • 3
    like dit nie

Knormoer. Koppelaarbeheer. Handrem. Handsein. Noodstop. Dit is nie 'n nuut geskepte taal of 'n klomp Italiaanse vloekwoorde nie, inteendeel dit is waarmee ek my tans besig hou. Voordat ek binnekort vir my lisensie kan gaan, moet ek eers die sogenaamde bestuursklasse afhandel.


Hier leer jy om te bestuur soos jy vir net één dag in jou lewe gaan bestuur en nóóit ooit weer nie. Ek trek al so by my sewende les en ek bestuur nou darem ook al sewe keer slegter as voor die lesse. Nie swakker nie, net slegter. Na wat veronderstel is om 'n uur lange les te wees - ek is seker dit is baie nader aan twee ure - moet ek eers oefeninge doen om my spiere af te koel om te verhoed dat hulle styf word. Ek het nog min, indien ooit, iemand gesien wat 'n volle wegtrek-observasie en 'n handrem-wegtrek by 'n doodgewone verkeerslig doen. Ek verstaan dat 'n mens moet observeer terwyl jy bestuur, maar jy moet beslis nie bestuur terwyl jy observeer nie.


Agter op die Toyota Tazz waarmee ek myself in die stad vermaak is 'n groot rooi L wat vir Learner staan. Nie vir Loser of Laaisone of watookal die swape wat agter my ry dink dit voor staan nie. (Met die matriekuitslae nog vars in my geheue kan ek nogal verstaan dat party mense nie lekker kan lees nie!) Met my laaste les staan ek seker so vyf karre van voor af by 'n rooi verkeerslig. Die lig slaan toe lowergroen. Nou begin ek met my wegtrekaksie: Eerste rat. Koppelaarbeheer. Linkerspieël. Linkerblindekol. Truspieël. Regterspieël. Regterblindekol. Handrem af. Trek weg. Die lig is weer rooi. Spieël. Blindekol. Spieël. Spieël. Blindekol. Verminder spoed. Spieël. Stop dood.


Ek is darem nou heel voor by die verkeerslig. Die bestuurder agter my is al blou in die gesig van al die getoet en ek raak nou sommer beneuk ook. Die lig is groen. En na 'n die uitmergelende wegtrekproses en 'n hele paar toeters in my ore spin ek suksesvol daar weg. Ek begin bid vir groen verkeersligte. Vir geduld. Vir automatiese karre. Vir padveiligheid. Vir die rooi L. Vir skole wat mense moet leer lees.


Vanoggend het ek sommer op my eie die pad aangedurf. Ek het net gery soos ék wil - binne perke darem. Ek het my spieëltjies gebruik, al was dit nou nie elke 5-8 sekondes soos voorgeskryf is nie. Niemand het vir my getoet nie. Ek het mooi weggetrek sonder 'n handrem en om alles te kroon leef ek nog. Ek het nie 'n rooi L op my kar gehad nie en niemand het rooi van woede vir my bestuursvaardighede geword nie. Dit is natuurlik as ek ry soos ek nie mag ry wanneer ek uitpasseer nie.


Vir die verkeersmense wil ek vra: Hoekom gehoorsaam nie eers julle die belaglike reëls nie? Vir die mense wat reeds lisensies het wil ek sê: L staan vir Learner. Wees geduldig en weet julle is ons heroes, ons almal wil eendag so mooi bestuur. Vir die wat nog bestuursklasse moet doen, vasbyt en mooi ry!


 

Gebruikers Kommentaar (3)

  • Instrukteur
    6 months ago
    Dit lyk my jy wat sanik oor die K53 bestuurstoets reels is nie by die regte bestuurskool nie. Weet jy dat die hele Westerse Wêreld volgens hierdie protokol bestuur of minstens behoort/probeer om te bestuur? Al die sulkes is nou seker verkeerd, outyds en belaglik, net jy is reg!Met die houding wat jy het is dit duidelik waarom ons land van die hoogste ongeluksyfers in die wêreld het; jy leer net om die toets te slaag en daarmee basta met die res. Ek is verbonde as instrukteur by 'n bestuurskool wat al 25 jaar bestuurders oplei en ons kry gereeld terugvoering van dankbare kliënte, selfs uit die buiteland!) wat danksy hulle opleiding, weet hoe om ongelukke te vermy, veilig te bestuur en hulle lewens te behou, tenspyte van mense soos jy wat, baie duidelik, hopeloos bestuur of eintlik gladnie kan bestuur nie. Indien jy regtig opgelei is en jou opleiding toepas, doen jy die observasies so vinnig en gladweg dat jou passasiers dit nie eers sal opmerk nie, maar nogtans sal jy veilig bestuur! My raad is: Hou op kerm, put die maksimum uit elke les, pas toe wat jy geleer het en hopelik sal jy en jou passasiers nie statistieke in hierdie padvarkland van ons word nie. Sterkte!!
  • Nee wat
    6 months ago
    Nee wat, jy is te min!
  • Nikki
    6 months ago
    Sterkte! Dis al wat ek sê, en hou moed.
    Wanneer mens jou lisensie het, hoef jy dit nooit weer te doen nie!
    Troos jouself daarmee!!!
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar