Onlangs gaan ek na 'n skou toe. 'n Regte een.
Dit mag vir jou na 'n onskuldige stelling lyk, maar in sommige kringe is dit soos om by 'n vergadering van mense wat afhanklik is van gewoontevormende middels 'n bekentenis te maak. "Hallo, my naam is Willemien. Ek woon skoue by."
My redenasie oor die skou en min of meer enige ander ding in die lewe is die konsep van Die Oop Gemoed - die teenpool van Die Koester van Die Onrealistiese Verwagting.
Jy kan nie na 'n meisieskool gaan en dan teleurgesteld sê daar is geen ouens nie. Wat het jy verwag?
Net so moet jy nie skou te gaan met die idee om jouself te verdiep in die fynere nuanses van die samelewing nie. Want net so min as wat jy daai sin verstaan, sal jy dit by die skou kry.
Skoue is nie diep nie. Dis vlak en eerlik daaroor. Skoue probeer nie voorgee nie. Dis 'n plek waar jy taai word, stowwerig word, gemors koop, goed eet wat uit feitlik geen natuurlike bestanddele bestaan nie en opgewonde raak oor watersuiweraars, goed wat wolle van jou klere afvreet en jou naam op enigiets van 'n ryskorrel tot afgebreekte toonnaels (jy hoef nie jou eie te voorsien nie).
So hark ek 'n paar voëls van eenderse vere nader. (Ek wou sê like-minded mense, maar ek is ‘n kampvegter. Vir Afrikaans en like-minded goed.) En ons gaan skou toe.
Ons luister na mense wat onbeskryflik lelik sing en wonder - terwyl ons knibbel aan chips met kernafval-sous oor - hoekom niemand vir hierdie mense sê hulle sing vrek lelik nie.
Ons dodge, ‘skuus...ontduik, kameellandmyne op pad na die mallemeule en ander masjiene wat jou naar maak.
Ons hou ‘n blitsdebat oor die moontlikhede en die voor- en nadele van die moontlikhede.
Dit bestaan meestal uit hoe die koerantfoto's gaan lyk van ons verminkte liggame nadat ons meters ver deur die lug geslinger is, vasgegordel in ‘n staalhokkie.
Ons is grafies in ons vermoedens. Dit kort hier en daar oorreding, want ons mag eenderse vere hê oor die skou, maar nie oor durf en waagmoed nie. Eindelik word grense verskuif op die wipwaentjie (blykbaar die rollercoaster). En ‘n wiel wat geweldig draai; later regop. (Hier wil ek net intjip en sê dít was onsmaaklik.)
Omdat ons almal reeds in twee of meer verkiesings kon stem, besluit ons op 'n biertuin om van die ergste skok te herstel. Nou hier, moet ek toegee, was die skou selfs vir my ‘n bietjie te eerlik. Die mense hier was beslis nêrens anders nie en was ook nie daar vir die tuin-gedeelte nie...
Ek wil jou nou nie ons hele skou-trip vertel nie. Eintlik wil ek, maar hier's nie plek nie. Ons het cool hoenders gesien, gewonder of perdemense senuweeagtig raak (hulle doen, ek het lank in die ry in die badkamer moes staan en het heelwat geleer) en na slange gekyk. Nie ek nie. Ek het nie ooghare, vere of tyd vir reptiele nie.
Hierdie grens sal nie verskuif nie.
Toe is ons terug vir nog 'n senutergende, maagdraaiende, sluk-heraaldelik-aan-jou-skoukos-rit op daai hamer-affêre. Ons sluit die trippie af deur in nog drie verskillende rye vir brousels wat as kos voorgedoen word, te staan. Want wat is 'n skou nou as jy nie vuil en naar en arm word nie?
Ek het steeds sooibrand.