Alles rock nou weer volstoom!
2000 and mine, 2000 and yours, 2000 and fine, 2000 and wine.
Die Engels is maklik. Afrikaans is 'n ander storie. Wat rym met nege? Sewe? Ek weet nie, en ek weet nie of dit vir julle vars nuus is nie, maar ek het moontlik die koelste ding sedert skaatsplanke ontdek!
Jy kan nou Protea-kleure kry . . . wag daarvoor . . . vir aanlynspeletjies!
Dis so koel ek wil my flippin' kat se gesig afbyt! Dis mal! Ek kan my indink dat daar die een of ander groep mense is wat teen hierdie uitspattige tipe plesier gekant is, maar wie gee om!?
Mind Sports South Africa (ja, daar is so iets) se aanlynliga se inskrywingsdatum sluit 8 Februarie.
Universiteits- en hoërskoolspanne kan inskryf! Jy wen medaljes! Die speletjies waaraan mens kan deelneem, is soos volg: Counter Strike 1.6 (PC), DotA- Allstars (PC), Team Fortress 2 (PC), Quake 3 (PC), Call of Duty 4 (PC), Call of Duty: World at War (PC), Starcraft (PC), TrackMania Nations Forever (PC), Red Alert 3 (PC), Gears of War 2 (XBOX360) en Guitar Hero (XBOX 360)!
Ek sou so baie goue medaljes gehad het dis net nie waar nie! Ek het onlangs vir my uiteindelik Guitar Hero aangeskaf! Dis moeilik! En dit ROCK!
Dis 'n goeie alternatief vir 'n duur aand uit en verbasend sosiaal!
Dis absolute twak dat dit nou eers gebeur, hierdie hele breinspeletjie, die aanvaarding van speletjies as 'n volwaarde aktiwiteitding.
Dis wonderlik, ek wens net mense was oop genoeg om dit 15 jaar terug al in te sien.
Dom flippin' grootmense.
Kinders is ook maar dom. In Monyakeng het kinders 'n stootskraper aan die gang gekry en dit het toe in iemand se Mercedes en huis in geneuk. Dis nogal dom en hulle word nou aangekla van oortreding en word verantwoordelik gehou vir die skade.
Maar die drywer het die sleutels binne in die stootskraper gelos! Dis flippin' dom. Die kind is nie eens 10 jaar oud nie! Hy's nou natuurlik dik in die moeilikheid.
Wat hy nou kort is 'n mantel wat hom onsigbaar maak!
Wetenskapfiksie? Nee! In 'n spanpoging tussen Amerikaanse en Chinese navorsers het hulle al amper juis so iets ontwikkel!
Waar kry hierdie mense geld om hierdie goed uit te dink?
Wat van mediese deurbrake?
Ek is seker daar's meer dringende kwessies as om jou lyf weg te steek. Tegnologiese vooruitgang voor morele vooruitgang is natuurlik 'n gevaarlike storie.
Die ou ding van "as dit in die verkeerde hande beland" is maar altyd daar, maar watse hande is die regte hande vir wapens? Die wêreldekonomie is nou in 'n poefstorm betrokke en gewoonlik is die antwoord dan oorlog. Meer gevorderde wapens en dan meer gevorderde ontduikingstegnieke en beskerming en dan weer meer gevorderde wapens en dan en so aan. Whoo-hoo!
Hier gaan ons!
Wag vir die dag dat kinders, robotte van binne hul huise af, voor die rekenaar en agter onsigbaarheidsmantels die oorloë namens die grootmense veg.