Om een keer per jaar Kersfees te vier, is net nie genoeg nie.
Nee wat, daarvoor is skaapboud, gebraaide aartappels en trifle mos heeltemal te lekker!
Daarom word daar sommer in Julie ook soortgelyke feesvieringe gevier,
Nou kyk, van waar of wanneer hierdie Krismis in July vandaan kom, weet ek nie, maar kla gaan ek nie kla nie - met ons Suidelike Halfrond-mense se winter wat nou heers, is dit boonop die naaste wat ek aan ‘n white Christmas gaan kom!
Maar vanjaar s'n gaan anders wees. Ek is nie so seker wat my juis nou laat besluit het om 2010 ‘n twist te gee nie - dalk wemel die Sokkerwêreldbeker se gees nog in my, dalk is ek besig om oud te word, of dalk is die wegbreek van die normale roetine dalk nie so slegte idée nie, wat ookal - maar hierdie jaar word die rolle verruil en speel ek self Vader Kersfees.
Nee, ek beplan nou nie om voluit te gaan en letterlik ‘n rooi kerspak, kompleet met ‘n opgestopte kussing om as ‘n pens te dien, aan te trek nie. Ook nie om my hele voorraad Doves-watte op my ken te plak nie, maar eerder om elke dag te streef na wat ou Vader Kersfees verteenwoordigend van is: Om te gee.
Hy's soos die argitek van glimlagte op kinders se dankbare gesiggies.
Ja, dis lekker om te eet, partytjie te hou, en presente te kry. Maar weet jy wat is nog lekkerder as dit? Om iemand anders se blydskap te ervaar. Om hulle te sien eet, partytjie hou en presente te sien kry.
Mandela-dag se 67 minute van welwillendheid het die vuurtjie begin, en die ou aan wie my stemme sal gaan op Idols, Elvis Blue, het dit verder aangeblaas. Hierdie gevoel om iemand anders te laat glimlag. En nie noodwendig om ‘n kind met duur geskenke te oorlaai of te trakteer met spandabelrige etes nie, maar net om ‘n bietjie tyd af te staan en ‘n snotneus-kindjie te laat smile.
Of ou klere wat net jou kas soos ‘n deurmekaarspul laat lyk, te skenk aan ‘n kinderhuis. Besoek ‘n hospies en ondersteun hulle deur ‘n kledingstuk of drie by hul aan te skaf, dis die in-ding om te doen. Of dalk kan jy jou voorskoot aansit en jou hand in die kombuis waag, en die (suksesvolle) eindresultaat as ‘n bordjie eetgoed by ‘n ouetehuis aflaai.
Eckhart Tolle praat in sy boeke van hoe enigiemand sy of haar lewe - en dus die wereld - betekenisvoller en beter kan maak. Deur slegs ‘n paar stappe toe te pas, kan elkeen van ons die krag vind om ‘n verskil te maak.
Nou toe nou. Verby is verbete pogings om ‘n flou verskoning te vind om nie iets goeds vir iemand te beteken nie.
Want dis ‘n feit: Om te gee maak mens soveel meer gelukkig as om te ontvang.