Korrespondensie uit die oor van die storm. Vol.5

  • 8
    like dit
  • 0
    like dit nie
Foto: Mark Reitz

Vir die eerste paar uur van 2010 vind ek myself deel van twee langwerpige partytjies wat teen 130 km/h mekaar die stryd aansê. Jeffreysbaai se liggies verdwyn onseremonieël in die truspieëltjie. Been there, done that, lost a T-shirt.

Ons kyk vorentoe, en met ‘n splinternuwe jaar waarmee ons kan maak wat ons wil, kies ons om fees te vier. Ek dink vir `n oomblik hoe dit van buite af moet lyk. `n Stil donker nag. Vuurwerke in die agtergrond en eweskielik bars daar `n bus uit die donkerte uit, met nog een kort op sy hakke. Hierdie tyd van die aand behoort buspassasiers veilig onder kniekombersies te wees, met heerlike soet KFM-treffers wat sagkuns deur die luidsprekers hulle aan die slaap sus.
Hierdie busse se ligte is egter aan en mens kan deur die vensters sien dat geen KFM-treffer `n klomp passasiers so oproerig kan maak nie.

Terwyl ek my nog verbeel hoe dit van buite moet lyk, raak die N2 `n dubbelbaan en trek die een bus langs die ander in. Die partytjies neem parralelle proporsies aan. Die ander bus trek reg langs ons s'n in en die twee partytjies is vir ‘n oomblik `n skamele twee meter uit mekaar uit. My vermoede word bevestig.

Van buite af lyk dit soos absolute chaos. Mense dans en sing in die bus se gangetjie. Sommige is kaalbolyf, sommige gooi mekaar met sigarette en die res baljaar asof hulle op `n springkasteel is. Toe die ander bus uiteindelik weer agter ons inval, en ek om my kyk, besef ek dat ek net sowel in `n spieël kon staar, want my bus lyk presies dieselfde.

Ons is op pad Hermanus toe en moet deurnag ry om daar te kom. Nuwejaarsnag word nie tradisoneel gesien as `n ideale tyd om ver te ry nie, maar dit help dat ons getroue busdrywers geheelonthouer moslems is wat gewoond is aan die nagskof.
Teen dié tyd weet ek egter hoe hierdie ritte afspeel. Die een oomblik woed die partytjie nog met geen einde in sig nie, en die volgende oomblik is die hele bus donker en lê die passasier op en oor mekaar soos hulle slaap.

Ek sluit aan by die slapende massa wat net plek plek wakker word om nog `n One Stop of Express Shop te oorrompel.
Ons word in Hermanus wakker. Ons bly buite die dorp in die See-en-Sand barakke. Almal glimlag want ons het vir die eerste keer op toer weer `n regte dak oor ons koppe. `n Paar van ons gaan swem in die lagoon wat na swael ruik en vol dooie vis is. Dit voel asof die regte wêreld ons inhaal. Ons is naby aan die stad en samelewing en wil vir oulaas nog bietjie walgooi teen realiteit wat op ons toesak. Om van alles te vergeet doen ons maar wat ons altyd doen. Ons maak `n vuur en partytjie om dit.

Die volgende oggend loop ons ons rieme styf teen die legendariese lewensredder, Sparks Esterhuyzen. Hy is berug vir die feit dat hy die Hermanus munisipaliteit afpiss omdat hy tydens broeiseisoen tussen die walvisse met sy kanoe inroei, dat hy perlemoenstropers vang en dat hy toekomstige lewensredders by kranse afstamp. Die barakke is syne en hy verduidelik vir ons met die grootste gebare hoekom ons banger vir sigarette moet wees as vir haaie. Hoewel baie van ons saam met hom stem, stem niemand in om saam met hom by `n krans te gaan afspring nie.

Dis die laaste keer wat ons in die busse klim op pad na `n konsert toe en die bemanning straal opgewondenheid uit. Hoewel die stadsaal soos die tipe plek lyk waar daar al `n kerkbazaar of twee in gehou was, wag daar reeds `n paar honderd mense vir ons buite die deure. Die mense lyk lus vir musiek en ons almal is lus om dit vir oulaas saam te maak.
Een na die ander gooi elke band `n onvergeetlike vertoning. Die City Bowl Mizers, wie se een lid in die hospitaal opgeneem moes word, sit koppe bymekaar en lewer een van hulle mees energieke optredes. Aan die einde van hulle vertoning is daar omtrent 30 seerowers op die verhoog wat hulle laaste refrein saamsing. Die gehoor lyk beïndruk en raak deel van die energie.
Vir die res van die aand kan nie een band hulle vertoning klaarmaak sonder dat daar talle seerowers en mede musikante op die verhoog verskyn nie. Ons wil dit ook nie anders hê nie.

Hoewel ons later weer `n kampvuur gemaak het en weer op die busse gedans het, het die hoogtepunt van die toer tydens die Tidal Waves se "Lekker Lekker Dans" gebeur. Al wat `n seerower, musikant, fotograaf, sekuriteitswag of klankman is het op die verhoog gespring. Instrumente is uitgeruil en die liedjie is voortgesit met Jakes van Tidal Waves wat vir die gehoor herhinner dat ons moet saam staan om iewers te kom. `n Verjaarsdagkoek met kersies het danksy die Bundi-kok sy verskyning gemaak om twee van die toerlede se verjaarsdae te vier en is amper net daar op die verhoog opgevreet. Tamboereine is geswaai, klawers gestreel, kitare gekielie en tromme geklap.

In die skerp verhoogligte kon jy amper jouself verbeel dat die mense op die verhoog meer is as die mense in die gehoor en al was dit so, sou dit nie `n verskil gemaak het nie. Die idee van die Avontoer was nog altyd om jou eie partytjie te wees en hom saam te vat waarookal jy gaan. Ander mense is welkom om aan te sluit, maar die partytjie hang nie van hulle af nie. Dit hang van die honderd mense wat op toer is af. Die mense wat elke aand dieselfde vertoning kyk en dit elke aand meer geniet. Die mense wat dieselfde liedjies om dieselfde kampvuur sal sing en dieselfde klere die volgende oggend aantrek.

Vroeër die dag is ons almal in die dorp ingestuur om flyers vir die laaste vertoning uit te deel. Dit was egter baie warm en die meeste van ons het eerder `n bier in `n lugverkoelde restaurant gaan drink. Op pad restaurant toe, sien ek `n middeljarige swart man wat tussen die karre rondhardloop en flyers in mense se hande stop. Met gate in sy klere en `n oupa-hoedjie op sy kop het hy seker vir die mense op straat soos die gemiddelde armsalige flyer-uitdeler gelyk,.

Dit was egter Jakes Wulana, die hoofsanger van Tidal Waves, en in retrospek besef ek dat hy die hele dorp wou nooi om te kom deel in wat daardie aand in die Sandbaaisaal sou gebeur. Hy wou vir soveel as moontlik mense wys wat moontlik is as mense saam staan. Hy het geweet hier kom `n spesiale aand.
In die middel van die harwar op die verhoog was Jakes die een met die grootste glimlag en ek weet dat watookal hierdie jaar met ons gebeur, daai glimlag altyd sal skyn. Tot die volgende toer. En die een daarna.


 

Gebruikers Kommentaar (1)

  • Skillie
    6 months ago
    so ou hoendervleisie het my nou oorrompel...

    Bless die hart van die AVONTOER!
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar