Korrespondensie uit die oog van die storm (Nuwejaars uitgawe)

  • 20
    like dit
  • 8
    like dit nie
Foto: Suzani van der Merwe

My kaal skouers kleef aan die bus se vloer vas. Ek dra al vir drie dae lank dieselfde vroueslanerfrokkie wat presies gemaak is om nie my skouers te bedek nie. Ek weet nie of die sweet of die sout of die wyn die taaiste is nie, maar saam maak hulle `n hoogs effekte gom.

Die bus se lugversorging het iewers tussen Mosselbaai en Grootbrak die gees gegee wat maak dat die veertig van ons eweskielik `n sauna deel. Die drie ure wat ek op pad Jeffreysbaai toe op die bus se vloer geslaap het was genoeg vir die gom om te set, en ek wikkel myself net betyds los om die "Welkom in Jeffrey's Bay"-bord te sien verby flits.

Dit was `n lang rit tot hier en ons het die tyd gebruik om ons moeë lywe 'n bietjie rus te gee. Helfte van die bemanning sluimer en snork nog om my, terwyl die res met dik oë by die vensters uit staar. Ons ry verby tonele wat die vreemdste herhinneringe by my oproep. Terwyl ons verby die promenade se sementblad ry, sien ek eweskielik vyftig spoke van Die Eerste Avontoer wat rondmaal en styfgepak in sirkels langs mekaar sit en lê. In die spoke se jaar was dit koud en reënerig en het hulle aande op strande, jetties en sypaadjies deurgebring. Dit was koud en nat en Jeffreysbaai se mense wou nie luister nie.

Hierdie jaar kom ons egter met versterkings. Ons twee busse vleg deur die erge verkeer en kom uiteindelik tot stilstand buite Havana. Ons hop een vir een uit ons oond op wiele en land enkeldiep in die sweterige onderarm van die Oos-Kaap. Die humiditeit is amper erger buite die bus en die duisende vakansiegangers maak dat jy van oral met warm alkohol-asems geblaas word.

Havana bied vir ons `n stoep en `n dak aan, en ons neem binne `n halfuur die plek oor. Die bands begin al vroeg. Een na die ander draf ons deur musiek en lirieke wat ons almal teen die tyd reeds uit die kop uit ken. Baarmoedergevoel, Die Tuindwergies, Mr. Cat & The Jackal, Thieve, City Bowl Mizers.

Iewers in die harwar daag Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties op en doen `n akoestiese optrede wat treffers van Lukraaketaar ook insluit. Fred den Hartog van Thieve sit 20cm agter hom en bring die nodige ekstra kitaar en harmonieë tot die musiek. In `n stadium het ek `n tamboerein beet en het Andrew van Thieve `n baskitaar en ons probeer die reeds versadigde musiek nog voller laat klink.

Hierna gaan oujaarsaand in 5de rat in. Ryno Velvet ruk weereens die gehoor stuk vir stuk uitmekaar uit en met elkeen van sy treffers, tref die gehoor die dak. Met elke daaropvolgende band kom daar meer en meer musikante op die verhoog om te deel in die vreugde. Tidal Waves, eF-eL en Zinkplaat vlieg verby met die nuwejaar wat in die middel van ons optrede aanbreek. Die meester van alle seremonies, Dawie Bornmann, deel bottels vonkelwyn uit terwyl die gehoor koes om nie deur kurkproppe in die gesig getref te word nie.

Ons heil is die langpad en toe Straatligkinders se laaste refrein soos `n tydlose slagspreuk in die nag in verdwyn, verdwyn daar eweskielik `n honderd seerowers en musikante saam met dit.

Ons pak die deurnag rit Hermanus toe aan, maar nie voordat ons Koekie Koeke Loekie se "Outjie met jou lekker boudjie" vier keer deurgeluister het en in die bus se gangetjie gedans het nie.

Ons volgende stop is Hermanus. Dit is die laaste konsert vir die toer, en ons laaste kans om te kuier en te speel asof daar nie `n regte wêreld daar buite is nie. Soos dinge op hierdie bus lyk, kan ek nie dink dit gaan klein eindig nie.
"Outjie met jou lekker boudjie, kom dans met my!"

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar