Korrespondensie uit die oog van die storm 2

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die idee het iewers net voor laasjaar se Avontoer in ons koppe ontpop. Gewoonlik as 'n Avontoer afskop vat dit 'n dag of twee voor die nodige kamerederie tussen die toergeselskap ontwikkel.

Ons reel toe laasjaar 'n pre-toer partytjie in Aandklas. Deel van die idee was om dit 'n inligtingsessie te maak en om seker te maak almal weet hulle moet die volgende oggend reeds 05:30 by die bushalte wees. Ons het egter redelik vroeg besef die aand gaan 'n ander wending neem.

Ons het 'n onbekende jazz-groep gevra om sommer bietjie agtergrondmusiek vir die aand te verskaf. Met die room van die land se rockmusikante wat met mekaar skouers skuur en effens tentatief deur mekaar se publieke persona's loer, slaan die jazz-band toe hulle instrumente in die hoek van die buitestoep op.

As so 'n klomp rockers uit verskillende dele van die land eweskielik onder een dak saamkom, moet mens verstaan dat elke musikant 'n scene verteenwoordig, en dat daar kompetisie in die lug is. Elke musiektoneel, van Pretoria tot Stellenbosch, Bronkhorstspruit tot Durban kan soos Jack Parow "Jy dink jy's cooler as ekke" sing oor wat hulle cooler maak as die ander bands. Al is daar glimlagte en vriendelike handdrukke en drukkies, is die atmosfeer tasbaar terwyl almal eers die kat uit die boom uit kyk.

In Aandklas was daar die een oomblik nog 'n klomp ego's in die lug, en die volgende oomblik loods die jazz band kop eerste in hulle eerste liedjie in. Dit was nie lank nie of elke musikant in Aandklas drom in die hoek saam om die jazz-band te sien musiekmaak asof dit van 'n ander planeet af kom.

Toe ek my weer bevind is ek en 'n paar van die City Bowl Mizers op ons kniee voor die band besig om hulle te aanbid. Mense het in die boom gehang, op tafels gestaan, oopmond gestaar, en sommiges het gesweer hulle sal nooit weer aan hulle instrumente raak nie.

Die breinbrekende jazz quartet het hulle amper te goed van hulle taak gekwyt. Toe ons die volgende oggend twee ure laat vir die bus wakker word, was daar 'n honderd nuwe vriende en omtrent 50 vermiste egos in Stellenbosch.

Vir 'n sosiale eksperiment soos Die Avontoer, is dit baie nodig dat 'n allesoorheersende Ubuntu reeds vroeg posvat. Gewoonlik gebeur dit op die Weskusbeen van die toer. Iewers tussen die stof en mis van die Weskus word daar nuwe hegte vriendskappe gevorm wat die res van die toer in 'n partytjie op wiele verander. Hierdie jaar het ons nie 'n Weskusbeen gedoen nie, so ons is die Groot Gees Rock Fees binne sonder 'n duidelike idée van wie ons mede avontoerlustiges is.

Ons het egter dié vuurdoop oorleef en toe met alle mag vir Mosselbaai binnegeval. Gisteraand het ons die stadsaal se dak gelig. Ná ons die dag op die strande spandeer het om die toer se sigbaarheid te verhoog, het ons op die trappe van die stadsaal bymekaargekom. Die saal, wat onlangs nog 'n AWB-byeenkoms en 'n troue moes akkomodeer, is nog met dekadente doeke en linte opgemaak.

Die nuwelinge, Baarmoedergevoel, het glimlaggend die aand met hulle unieke klanke ingelei. Die boewe wat hulle is, het Thieve die gehoor se harte kom steel en die boude aan die wikkel gekry. Ryno Velvet het die verhoog getref soos 'n ondier wat losgelaat is. Met sy rou rockklanke en saamsing refreine het hy die gehoor opgesweep met 'n optrede wat gelyk het asof dit liedjie vir liedjie net spoed optel. Daarna het eF-eL deur 'n rits treffers gehardloop met die gehoor wat elke woord saamsing.

Die saal se houtvloer, wat ongetfyweld al 'n sokkie of twee gesien het, is vir 'n hele ander danspassie gebruik toe die Tidal Waves die aand afgesluit het. Op aandrang van die Baarmoedergevoel-bende het 'n nuwe tradisie hierdie jaar ontstaan. As die Tidal Waves die verhoog betree trek almal in die gehoor hulle skoene uit sodat die Afrika danse wat volg meer ortodoks is.

Ná die konsert het ons twee busse by die Total Garage in Groot Brak gestop sodat ons voorraad vir die aand kon kry. In 'n rare oomblik van teenstrydige roetes wat by dieselfde bestemming uitkom, het die uiters populere plaaslike sokkieplek, De Dekke, sopas vir die aand toegemaak en het 'n duisend sokkiedansers oor die parkeerterrein gespoel. Dis moeilik om te se wie van die seerowers of die sokkie-bokkies die hongerste was, maar honderde mense het soos 'n trop uitgehongerde wolwe op een toonbank in die Total se winkeltjie toegesak. Dit was nie lank nie of die bestuurder jaag mense met 'n eierspaan uit die winkel uit terwyl die meisie by die kasregister met haar selfoon die chaos afneem. Die polisie is uiteindelik ook nader gehark om rus en vrede te herstel.

Teen hierdie tyd het ons kampoppasser, Shorty, reeds 'n kampvuur van format gestook, en kon ons die bus vir 'n warm boesmantelevisie verruil. Fred den Hartog, van Thieve en Bertie Coetzee van Zinkplaat gryp toe die kitare en lei ons vir die tweede opeenvolgende aand deur 'n kampvuur jam wat selfs Jack Parow sou geniet.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar