Korrespondensie uit die oog van die storm

  • 3
    like dit
  • 0
    like dit nie

Ons aanval op die niksvermoedende Suid-Kus kon nie op 'n slegter tyd vir dié streek kom nie. Gebottelde mineraalwater vlieg van die rakke af terwyl die kus die ergste droogte in dekades in die gesig staar. Bo en behalwe dit wil dit blyk asof die resessie nie eens een Gautenger kon weghou van hulle huisies by die see nie. Met my laptop wat soos 'n panga ingespan is, moes ek vir myself 'n pad deur die Gautengers boender.

Ek sit by 'n tafel in die Pirate Tower op Diaz-strand. 'n Touchies-toernooi woed op die sand en vakansiegangers het soos 'n swerm springkane op die klein vakansie mecca toegesak. Water is skaars en bier is duur, maar my seerowervriende is besig om die Pirate Tower oor te vat, en wie weet wat gebeur as 'n honderd seerowers met skinny jeans, dreadlocks en baarde kop aan aan kop met 'n klomp rugbyspelende fris Chrisse gaan. Hopelik een reuse partytjie.

Dit is die derde dag van die MK Vierdie Avontoer en ek weet nie waar om te begin om te verduidelik hoekom hierdie my eerste korrespondensie is nie.

Met 'n maag vol kersfeeskos het ons almal Saterdagoggend agtuur uit Stellenbosch uit vertrek. Twee busse, 10 bands en 'n honderd musiekondersteunende, avontoerlustige seerowers het die toergeselskap opgemaak. Een van ons busse het drie dae voor die toer gebreek, en ons plaasvervangerbus was 'n groen rusper wat teen 130 km/h die N2 tot in Stilbaai in 'n rekordtyd ingesluk het.

Ons eerste stop was die Die Groot Gees Rock Fees en met 13 bands en duisende aanhangers wat op een kloof in Stilbaai toesak, is dit elke jaar 'n vuurdoop. Hierdie jaar het dit egter in 'n waterdoop verander. Die musiek het al vroeg begin met die bands wat om die beurt vir 40 minute hulle staal op die verhoog wys. Kort voor lank was daar 'n see van gesigte en teen die tyd wat die reggae groep, Tidal Waves, die verhoog betree het, was almal reg om "Lekker lekker te dans".

Vir dié fees het Van Fok King Tasties by ons aangesluit. Van Coke Kartel en Die Heuwels Fantasties het polsende optredes gelewer, maar toe aKING en Fokofpolisiekar net na Straatligkinders moes opgaan, het 'n reenbui op die kloof toegesak. Die klanktoerusting het nat geraak en bonop was die dorpsmense reeds besig om die polisiekantoor te bombardeer met klagtes oor die klanke wat uit die kloof uit hulle dorp in "Raasbaai" verander het. Die konsert is kortgeknip met klankmanne en musikante wat rondhardloop om hulle toerusting te red, en feesgangers wat uitmekaargespat. Soos die mense by die hekke uitgestroom het, het die ironie van die situasie my tussen die oe getref. Die hele streek bid vir reen, maar toe dit uiteindelik kom, vlug almal.

Gisteroggend word ons met sporadiese reenbuie uit ons tente gespoel. Die hele bemanning deel 'n reuse pot Oats-pap, en ons span die seile Mosselbaai toe. Ons bly buite Groot Brak in 'n veld langs die rivier. Ons tente was nog nie daar nie en ons toerkaptein se bakkie het gebreek. Aangesien dit 'n Sondag was, was die enigste werktuigkundige wat bereid was om te help, een wat cable-ties gebruik het om die enjin aanmekaar te bind.

Terwyl ons vir ons tente gewag het bars 'n spontante sokkertoernooi tussen die seerowers uit. Dié wat nie speel nie, kyk lui vanuit die skaduwee van die bome en juig nou en dan 'n goeie beweging toe. Later bring Die Straatligkinders se Bouwer Bosch 'n reuse Frisbee en die twee spelle smelt saam as Frisbee Ball.

Teen die tyd wat ons tente arriveer saai die boesmantelevisie (lees: kampvuur) reeds goeie seine die skemerlug in. Kitare wentel soos motte nader aan die vuur en almal verander in 'n kitaarspeler van formaat. Kort voor lank word alles van boksies Robertson-wyn tot houtstompe as perkussie instrumente ingespan en die onheilspellende klanke van 'n saag wat met 'n strykstok gespeel word, bereik ons vanuit die skaduwees. Jeacques du Preez van Mr. Cat & The Jackal eindig die aand met 'n "Happy Birthday To You" wat hy noot vir noot perfek uit sy saag knak.

Soos altyd was daar reeds 'n klomp "eerstes" op die toer, en ons almal se inherente behoefte om klanke uit alle potensiele instrumente te wurg, is hoekom daar nog baie "eerstes" gaan wees.

Vanoggend was gelukkig bewolk wat maak dat ons nie reeds teen 7uur uit ons tente gebak word nie. Ons spaar water deur in die rivier te bad en ons tande te borsel. Die res van die dag het ons die busse as Trojan Horses gebruik om in die middel van die digbevolkste strandoorde in te jaag en ons teenwoordigheid bekend te maak. Vanaand val ons Mosselbaai se stadsaal binne. Ons gemoedere loop hoog en die geesdrif is tasbaar. Dit lyk tog asof ons uit die donker tonnel van 2009 gaan bars met die klere aan ons lywe en die wiele wat onder ons rol. Bring vir ons daai horison.


t

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar