Kop jý die koppelaar?

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Aldu Duminy

Daar is sekere dinge wat mense aanvaar asof dit so natuurlik soos asemhaal is.

So word dit as vanselfsprekend aanvaar dat almal die een of ander tyd 'n rybewystoets moet aflê. Die meeste doen dit ook sommer die dag wat hulle 18 jaar oud word. Dis mos hoe dit is.

Regtig, mense aanvaar sekere goed darem net te vinnig. Ek het reeds besluit 'n rybewys is nie deel van my toekomsbeplanning nie.

Ek kop eenvoudig nie die koppelaar nie. Wanneer trap jy hom en hoe stadig moet die koppelaar nou eintlik beweeg? Jy sê die handrem is 'n pedaal. Moet ek dit met my hand trap?

Ek het nou al klaar vrede gemaak met die idee van 'n rybewyslose lewe. Glo my, ek is nie van plan om oor en oor om die blok te ry net om te oefen om van derde rat af na tweede rat te wissel nie.
Dit is waarom ek met 'n spaarplan begin het.

Ek is nou in gr. 11. As ek elke dag R5 in 'n blikkie gooi, sal ek teen die einde van 'n vierjaar-kursus op universiteit ongeveer R11 000 hê.

Vergelyk dit nou met dié wat teen daardie tyd al meer as R50 000 sou geblaas het op motorbande, filters en diesel. Daar's vandag omtrent oral busse, daarom sal R11 000 my sekerlik 'n rukkie lank help om te kom waar ek wil wees.
Dis nie waar die voordele vir mense soos ek, dis nou die anti-bestuurders, eindig nie. Die kans dat ons duisende rand aan bloeddruk-medisyne en strespille gaan bestee, is soveel minder, want ons sal nie die stres van die pad op ons skouers hoef te dra nie. Ons gaan ook nie bydra tot padwoede nie.

En ons gaan eerder die tyd wat die arme siele in Agtstelaan teen die bultjie probeer wegtrek, produktief benut deur 'n voertuig te ontwerp. Een wat pedaalloos is.

Nou wonder julle seker wat ek met al die spaargeld sal doen. Ek gaan Venesië toe. Daar is soveel meer mense van mý "soort". Hulle vaar met bote waar hulle ook al wil gaan. Dis ideaal.
Die plan hou boonop langtermynvoordele in. Gestel jy en jou studentevriende het die bargain van die jaar losgeslaan en 'n pool-tafel in 'n tweedehandse winkel gekoop.

Maar elke kamer in die studentehuis is reeds vol en die tafel kan sekerlik nie buite staan nie.
Wat nou? Onthou, nie een van julle het al 'n rybewyskaart in jul beursies geskuif nie.
Geen wiele staan dus in daardie stowwerige motorhuis nie. Probleem opgelos!
Die motorhuis is die nuwe kuiervertrek.

So, sien ek jóú in Venesië?

- Aldu Duminy is een van JIP se JJ's en is in gr. 11 aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar