Kompetisiekultuur op skool: Wen is nie alles nie

  • 4
    like dit
  • 2
    like dit nie
Is wen vir jou alles?

Vermy jy atletiekbyeenkomste of kultuuraktiwiteite by die skool omdat jy die een is wat nooit wen nie? Of “verloor” jy dit as jy nié met die goud wegstap nie? Dis oukei om deel te neem net omdat dit vir jou lekker is. JIP wys jou hoe.

Hoekom deelneem?
Die goue reël is: Want dit is lekker.
Die bonus? Jy kry al op skool 'n gebalanseerde leefstyl, pas makliker in by mense van jou ouderdom en ontmoet vriende.
Wen julle, is jy en jou buddies sáám bly. Verloor julle, help die teleurstelling julle om 'n sterker span te vorm. Mededinging op skool leer jou hoe om sukses en mislukking te hanteer en help jou om vaardighede soos leierskap en konflikhantering te ontwikkel. As jy al op skool leer om druk te hanteer, sal dit jou in die toekoms help.


Doen dit só



  • Maak seker waarom jy iets wil aanpak.

  • Stel realistiese doelwitte vir jouself en beloon jouself as jy dit haal.

  • Moenie sukses definieer in terme van wen en verloor nie.

  • Wen beteken soms om binne jou vermoë klaar te maak deur jou beste te gee.

  • Geniet dit as jy wen, maar probeer verstaan waarom jy verloor het.

  • Om te verloor, help jou om te verbeter. Hoekom? Want dit laat jou dink oor wat jy volgende keer beter kan doen.

  • Moenie obsessief op een aktiwiteit fokus omdat jy dink dit kan dalk 'n loopbaan word nie. Wees oopkop oor alles.


‘Ek móét net wen'
As mededinging die enigste ding word waarop jy fokus, kan dit 'n paar negatiewe implikasies hê:



  • Jy hou dalk op om die sosiale interaksie te geniet en is meer gespanne as enigiets anders as jy deelneem.

  • Jy kan begin dink jy is belangriker as ander mense.

  • As jou span se enigste motivering is om te wen, kan julle mekaar dalk die skuld vir foute begin gee of jaloers raak op mekaar.

  • Jy kan perspektief verloor. Dis goed om te presteer, maar onthou, jou prestasie is nie álles in die groter prentjie nie.

  • As jy altyd net deelneem om teen ander mee te ding, is dit maklik om jouself altyd met ander te begin vergelyk. Jou selfbeeld kan dan maklik in die stof byt, want iemand gaan altyd mooier, slimmer of sterker wees.

  • Sommige skole gebruik prestasies om die skool te bemark. Dan kan leerders wat gemiddeld presteer, voel hulle is nie goed genoeg nie. Die druk om te wen, kan ook vir die top-presteerders te swaar word.


Deelname tel
Ons het by twee HIP2B²-ambassadeurs wenke oor gesonde mededinging gekry. Hulle rol is om dié organisasie te bemark en om ander leerders opgewonde te maak oor wiskunde en wetenskap:



Gemma-May Grotepas, 'n gr. 11-leerder aan die Pretoria Girls High School, is die onderleier van die skool se debatspan, speel klavier én is gek oor gholf. Sy sê:
- Deelname leer jou waarvan jy hou. Dit kan jou studierigting beïnvloed.
- Jy leer nuwe goed. Debat het my algemene kennis verbeter.
- As jy glo jy is onbelangrik sónder die medalje, gaan jy onbelangrik voel as jy die medalje het ook.
- Motiveer jouself. Ek probeer net fokus op my eie prestasie. Dit help nie ek vergelyk my punte met almal s'n nie.
- Onthou balans. Ek het verlede jaar siek geword omdat ek té veel probeer doen het, nou het ek afgeskaal en fokus ek op wat die belangrikste is.






Jan-Cor  Wolfaardt is in gr. 12 aan die Paul Roos Gimnasium  op Stellenbosch.
Hy dien op die leerderraad, speel hokkie en is 'n koshuisleier. Hy sê:
- As jy nie by my skool deelneem aan iets nie, is dit net jy wat uitmis. Daar is tot 'n sesde en sewende span in sekere sportsoorte en die ouens geniet dit net soveel soos die eerste span om  te toer en  wedstryde vir die skool te speel.
- As jy nie deelneem nie en op jou eie eiland bly, leer jy niks by niemand nie en gee jy ook niks van jouself nie.
- 'n Oorwinning is altyd fantasties, maar ongelukkig kan 'n mens nie altyd wen nie. Dan tel goed soos spanmaats, 'n cool afrigter en jou vriende (die toeskouers) se ondersteuning.
'n Humorsin is die beste medisyne vir verloor.
- Niemand sal my oortuig hulle gee glad nie om vir verloor nie. Wanneer Paul Roos teen Grey College wen, is dit mal!
Wanneer ons teen hulle verloor, is dit nag! Maar dit motiveer ons om volgende keer beter te doen.

Die kenners

Die wenke in dié artikel is saamgestel met behulp van dr. Ezette du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige wat navorsing gedoen het oor watter impak dit op leerders het as hul skool net op wen fokus, en Johan van Lill, die amptelike opvoedkundige konsultant vir HIP2B².



 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar