Klink ’n glasie op Dylan

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die musieklegende Bob Dylan het verlede week 70 geword. Bob Dylan? As jy nie weet wie Bob Dylan is nie, mis jy uit op die lewe. Gaan Google hom 'n bietjie en luister na van sy treffers soos "The times they are a changing".

Dylan het die musiekbedryf verander met sy talent om briljante lirieke te skryf. Hy het ook miljoene jong mense in die jare sestig geïnspireer om verandering te bewerkstellig en was veral gekant teen die sinlose Viëtnam-oorlog. Hy het letterlik 'n verskil gemaak deur te doen waarvoor hy lief is. Bono, die hoofsanger van U2, en vele ander sê Dylan het hulle met sy musiek en lirieke betower.

Deesdae se musikante stel my teleur met hul lirieke. Hulle fokus op die melodie. Ek is self gek na 'n lekker melodie wat jou ingewande laat rondspring, maar sonder goeie lirieke beteken dit nie veel nie. Oukei, popmusiek laat minder ruimte vir lirieke as ander genres, maar steeds. Dit is broodnodig om goeie lirieke te hê. In die fliek Music & Lyrics sê Drew Barrymore: "A melody is like seeing someone for the first time. The physical attraction. But then as you get to know the person, that's lyrics. Their story. Who they are underneath."

Saam kan die melodie en lirieke 'n wenresep wees.

Ek dink nie musikante weet meer hoe om liedjies te skryf nie. Musikante moet sing wat hulle voel - nie wat ander voel nie. Die ding wat my die meeste irriteer, is dat baie musikante herhaling gebruik weens 'n gebrek aan liriese vermoë. Soos: "Baby, baby, baby." Ons het dit! Beweeg aan.

Die bestanddeel wat Afrikaanse rockgroepe soos Die Heuwels Fantasties so fantasties maak, is eenvoudig: Die lirieke. Hunter Kennedy, die skrywer van Die Heuwels Fantasties se liedjies, is geniaal. Volgens my is hy soos 'n Afrikaanse Bob Dylan. Dit is hoekom Die Heuwels so baie aanhangers het - wat hulle sê, maak actually sin.

Ek kan nie glo ons generasie word so gestraf om te luister na kommersiële kunstenaars soos Lady Gaga en Justin Bieber nie. Die grootste faktor wat verander het, is waarskynlik die sangers se motiewe. Baie doen dit nie meer vir die liefde van die saak nie - hulle doen dit vir roem en rykdom.

Ek wil net hulde bring aan die koning van lirieke - iemand wat regtig 'n verskil gemaak het. Die legende. Die ikoon - Bob Dylan.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar