Klaar met die dinge van 'n kind

  • 2
    like dit
  • 0
    like dit nie

Almal wou net vinnig daar uitkom.
My vriendin sê nou die dag: "Ek het in gr. 1 ingestap, die oorvriendelike juffrou skepties uitgekyk en besluit ek is vir groter dinge in die lewe beskore."
Sy wou nie praatjies maak oor blommetjies en bytjies nie, sy wou toe al regmaak om haar doktorsgraad in mikrobiologie te gaan verwerf.

Ons het dit so saam-saam probeer oorleef en omwens.
Daar was die Sottekonsert toe ons as grot-otters met die tandeborsels moes dans.
My vriendin, met 'n wit boks oor haar lyf en 'n proppie op haar kop, was die moonwalking tandepasta. Ek wou saam met haar moonwalk van die verhoog af . . . sommer direk my matriekjaar in.
Dit het nie gebeur nie.
Gr. 9 het gevolg.

En ons status as sotte was gerieflik vergete en die upgrade wou ons vier. Partytjies is spoedig gereël. Maar die gasheer se inwonende ouma moes by die reëlings ingesluit word.
Sy het deur haar diklensbril na my gestaar terwyl ek aan my rooi Jannie-verjaar-koeldrank geteug het. Ek het gewens dit was sjampanje, ek het gewens daar was nie grootmense wat na allerhande onheilighede soek nie, ek het gewens ek kon snipperig 'n ryp groen ID vir die tannie gaan wys.

Die volgende jaar het ek weer dikmond op die paviljoen by die kleure-atletiek gesit. Ek het selfbejammerend na my vel gekyk en toe na die skroeiende son en toe na die rooigeverfde dirigent wat besete op my skree: "Annemie! Staan op! Sing saam! Mango! Mango! Kyk hoe wen die Rooispan nou!"
Ek het gewens ek kon, maar my hees stem kon nie eens die vrug se naam behoorlik uitspreek nie. Ek het gewens ek kon 'n gr. 8-kind stuur vir Strepsils, en dan daarna op haar skree, omdat sy nie 15 uur lank aanhoudend vir die Rooispan se gewigstoters skree nie.

Twee jaar later het ek wel die "voorreg" gehad om ook onbeskof te kon wees. Maar toe ek daar van bo af na die gr. 8's kyk, wou ek eerder die arme grot-otters vermy.
Die sottekonsert was irriterend, die tandepasta-dansie al uitgerafel en ek het gewens die jaar ontbind heeltemal. Ek kon nie wag om uit die saal te stap en uit die skool uit nie. Ek wou klaarmaak met die dinge van 'n kind.
Die dag het toe gekom. Ons het almal saam in die skoolsaal gesit. "Pippie, jy kan nou 'n mikrobioloog word. Ek kan nou grootmens wees," het ek gedink.
Maar daar was gefrommelde tissues op ons skote. Die stroom trane het my wange klam gemaak. Dit was ons laaste skooldag. En niemand wou op dié dag uitstap nie.


 

Gebruikers Kommentaar (1)

  • Su-Mari
    30 months ago
    In gr 1 voel dit of jy nooit daar gaan wees waar al die ander GROOT KINDERS is nie...ons tyd kom en ons tyd is verby. Die skool sal ek nie mis nie..maar my pelle gaan ek ontsaglik baie mis. Die tye in skool is great en al die kyertjies saam is oomblikke wat nooit verlore sal gaan nie.
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar