Sestien kosbare lewensjare lank het ek al die ongelooflike voorreg om die titel as "jongste kind" te beklee.
Tot dusver was my lewenspad besaai met absolute vreugdevolle oomblikke. Ek pik sommer 'n traantjie weg as ek terugdink aan hoe lekker dit was om 7 uur lank op pad na ons vakansiebestemming opgevou en opgekrul tussen my broer en suster te sit.
Sielkundiges weet waarvan hulle praat - hulle ís immers kundiges. Volgens hulle bestaan die moontlikheid dat jongste kinders voorgetrek word. Ék is die jongste en word beslis voorgetrek wanneer ek koud stort of die laaste happie poeding kry wat eintlik net my smaakkliere kielie.
Op dié roosbesaaide lewenspad van my het ek 'n paar objektiewe teorieë oor gesinne, gevorm. . . Elke aspirant-ouerpaartjie kry ten minste een "Hoe-om-'n-ouer-te-wees"-handleiding. Die middelste hoofstuk van dié gidse handel meesal oor die middelkind. Daardie arme kind wat geneig is om aan 'n komplekse sindroom te ly: die middelkindsindroom.
Sielkundiges beweer dié kinders is skadukinders. Maar kom ons plaas tog net eens en vir altyd hierdie bose bespiegelinge in die skadu. As goeie ouers die kosbare handleiding bestudeer, sal hulle reeds vóór geboorte weet wat die moontlike "nagevolge" van 'n middelkind kan wees. Dis vanselfsprekend dat hulle uit hul beursies en harte sal gaan om te verhoed dat die middelkind deel vorm van dié bose statistieke. Sielkundiges, die jongste en oudste kinders is die eintlike slagoffers van middelkindsindroom. Dieselfde geld jongste kinders wat klaarblyklik voorgetrek word.
Dit is bog. As dit waar was; waarom het ek geleer om altyd die stoel vas te hou as ek gaan sit? Omdat ek my balans of die stoel gaan verloor?
En selfs al was dit waar dat die jongste kind voorgetrek word, sal die ander kinders hom altyd terugsleep na 'n gelyke- of opdraandepad. Waarom? Ná miljoene kere weet ek dis omdat ek die jongste is. . .
Die bewering dat die oudste kind die strengste grootgemaak word, is ook wankelrig.
Met wie vergelyk ouers die oudste kind?
Nee wat, húlle is 'n proeflopie, sodat ouers uitgeslape is teen die tyd dat hul jongste 'n wandaad waag.
Totdat 'n kenner met die régte storie vorendag kom, sal ons arme jongste kinders in die skadu en in vrees van ons "bose" broers en susters moet bly leef. - Aldu Duminy is in gr. 11 by die Hoërskool Riversdal. Hy is 'n JJ.