Kempton Park wen Coke-reeks

  • 1
    like dit
  • 2
    like dit nie
CP Venter, die Kempies se kookwater-flank, op die aanval. Foto: Marius Nortje

Die gewilde Coke-reeks vir o.19-rugbyspanne het Vrydagaand vir 'n opwindende einde gesorg toe die Hoërskool Kempton Park naelskraaps met die Hoërskool Marais Viljoen afgereken het en dus met die louere weggestap het.

Vanjaar se eindstryd, met 'n telling van 6-5, word gereken as die spanningsvolste een in die reeks se 25-jarige geskiedenis.

Die twee spanne het mekaar van meet af aan behoorlik vasgevat en mekaar maar min beweegruimte gegee.

Marais Viljoen het vroeg in die wedstryd na die sterker span gelyk en het in die eerste 15 minute naby die Kempies se doellyn gekuier.
Maar die Kempton Parkers het verbete verdedig en gekeer dat hul teenstanders die bal op die lyn kon plant.

Daarna het die wedstryd hoofsaaklik tussen die twee spanne se kwartlyne plaasgevind.
Kempton Park het sy stempel al hoe meer op die wedstryd afgedruk en is met die eerste punte beloon toe die flank, CP Venter, met 'n strafdoel geslaag het.

Ná die draaislag moes die Kempies weer hul skrale voorsprong met alles tot hul beskikking verdedig toe Marais Viljoen die tweede helfte soos die eerste een begin het en die een aanval ná die ander op die Kempies se doellyn afgestuur het.

Dié keer is Marais Viljoen se harde werk egter met punte beloon toe Phillip van der Merwe vir sy span gaan druk het.

Toe was dit Marais Viljoen se beurt om sy skrale voorsprong te beskerm, maar Kempton Park sou die laaste sê hê. Ruanco Pelser het in die doodsnikke van die wedstryd 'n strafskop oorgeklits en só sy span met net een punt laat wen.

Die goed afgeronde Hoërskool President het Trinity College 20-10 in afdeling B se eindstryd geklop. In afdeling C se eindstryd het Die Hoërskool Maragon 21-12 oor Die Burger geseëvier.

COKE-REEKS
Afdeling A: Potchefstroom 20, Klerksdorp 12 ; Florida 12, Noordheuwel 9; Kempton Park 6, Marais Viljoen 5.
Afdeling B: Bekker 15, St Benedicts 12; Carletonville 17, Alberton 12; President 20, Trinity 10.
Afdeling C: Elsburg 6, Westonaria 5; Maragon 21, Die Burger 12.

@LANTIC-SEWESREEKS
Bekereindstryd: Excelsior 27, Schoonspruit 17.
Plaateindstryd: Scottsdene 19, Rondebosch 5.
Komeindstryd: Monumentpark 15, President 12.
Skildeindstryd: Belhar Uitnodiging 19, Wesbank 14.

Gebruikers Kommentaar (2)

  • Carl van Niekerk
    17 months ago
    Ek wonder of Hans van Vreden by die wedstryd was!! Die Jip in Maandag se Beeld het gemeld dat Marais Viljoen gewen het. Die speler wat die laaste strafskop oorgesit het was nie Ruanco Pelser nie maar wel Corne' de Villiers. Ek dink dis uiters swak!!!

  • 17 months ago
    Maak tog net reg in julle berig. Die opskrif sê Marais Viljoen het gewen. Dankie tog
Bladsy 1 van 1
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar