Kaapstad

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Adriaan Louw

Ek lig die wit linne van my af, neem my beker varsgemaalde koffie en gaan sit op die balkon van my huis en kyk uit op die Moederstad en Tafelbaai met Leeukop en Duiwelspiek wat om die hoeke van die huis vir my loer.


In my slaapkamer sing Maria Callas O Mio babbino Caro waar sy by haar vader pleit om haar toe te laat om liefde na te jaag - die liefde waarvoor sy sal sterf.


Onder my stap twee sekuriteiswagte doodstil al langs die heining van die premierswoning terwyl hulle vrouens iewers aan die ander kant van die berg vir hulle wag.


Twee blokke verder, by die Mount Nelson, sing ‘n man by die restaurant vir die ongeïnteresseerde klante van sy vrou wat met hul kinders weggeloop het en smeek haar om terug te kom: Ne me quitte pas, il faut oublier tout peut s'oublier.


Agter my speel iemand klavier vir almal wat wil luister en in die stad draai die neonligte soos die jongklop sorgloos die aand om dans. Die bure se dogter rook skelmpies saam met haar vriendin terwyl haar boetie Milk kyk sonder dat sy ouers mag sien.


Aan die ander kant van die baai sit ‘n vrou op Blouerg se strand en droom van ‘n tyd toe sy nog hoop gehad het en die lewe nog die moeite werd was om te leef. Sy droom dat liefde nooit sal sterf nie en dat God altyd sal vergewe. Sy droom dat haar man sal terug kom en dat hulle gelukkig sal saamleef, maar die lewe het haar droom vernietig.


Iewers in die Waterfront stap ‘n dame deur die winkels van Louis Vuitton en Jimmy Choo om haar eensaamheid te bedaar terwyl haar man weereens laat werk.


In die baai lê ‘n passasierskip geanker waarvoor die mense duisende rande betaal het vir ‘n droomvakansie, in die lug draai ‘n vliegtuig oppad na Parys met ‘n jong man wat ware liefde daar gaan soek en by Taj sit ‘n gelukkige gesin en vier hul dogter se gradeplegtigheid. Die kerkklol lui en die nonne beweeg uit die klooster na die kapel vir gebed terwyl ‘n jong kleuter op hul erf se grasperk lê en die sterre tel.



Maar verby dit alles sien ek ‘n jong seun op ‘n balkon wat wonder waaroor alles regtig gaan en met homself praat:
Die tyd het aangebreek dat ek die lewe myne maak
Ek het slegs ‘n kort tydjie om te lewe
My verlange het my hierheen gely:
Al my behoeftes en begeertes


Tog is dit die weg wat ek gekies het
My geloof is veel meer as woorde -
Dit is die padaanwyser
Na die hemel wat ek moet vind


Ek wil voluit lewe -
Elke dag wat voor my lê
Ek wil lewe na my wense
Met die wete dat ek goed genoeg was


Ek was nooit verlore nie
My drome het slegs in die skadu's gewaak
Ten spyte van my omstandighede
Is my hartsbegeerte om voluit te lewe


Ek wil gelukkig wees deur te wees wie ek is:
Sterk en vry
Ek wil die dagbreek beleef na die donker nag
Ek loop die pad met my toekoms in my hande
En die wete dat ek eendag
Die hemel waarna ek soek sal vind


My enigste begeerte is die wete
Dat ek my lewe voluit leef


Die ligte van die vensters onder my gaan een vir een af. Maria is stil. Ek kruip terug onder die wit linne met die wete dat ek die hemel waarna ek gesoek het, gevind het.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar