Jy’s ook eendag grys

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie

Ek het onlangs 'n skokkende ontdekking gemaak wat elke tiener se oë sal laat rek en sy koffie koud sal laat word.

Ek het dit eintlik nog altyd geweet, maar ek het nooit verder daaroor gedink nie, totdat ek nou die dag op 'n ou foto afgekom het.
Die mens op die foto het lang hare en lyk asof hy op pad is na 'n hippie-convention. En dis so vreemd - die mens lyk amper nes ek. Dis my pa, besef ek met 'n skok!

Toe tref dit my soos 'n bliksemstraal: Ons ouers was ook eens (lank, lank, lank gelede) jonk!

Ja, daardie ou-toppie van jou met die grys hare of bles, het dalk eens op 'n tyd goue lokke soos 'n surfer gehad. Dit is nie eens die slegte nuus nie.
Die waarheid is dat jy onherroeplik op pad is om ook soos hy te lyk!
Nee!

Ek weet dit is 'n inconvenient truth, maar ons word daardeur in die gesig gestaar. Dit is hoe dit nog altyd was - the circle of life. Jy word gebore, jy word groot, jy raak oud en dan skop jy oplaas die emmer.
En behalwe as daar binnekort 'n wonderkuur ontdek word wat jou en my jonk sal hou, gaan ons ook grys word.
Daarna is 'n draai in 'n vampierwêreld, soos dié in Twilight, jou tweede opsie, maar ek dink nie jy wil die res van jou ewige lewe 'n bloeddrinkende monster wees nie.

Die antieke Romeine was ook min of meer soos ons.
Moeilik om te glo? Hulle het gladiator-toernooie in die Colosseum gehou. Dit is amper soos om rugby op Nuweland of Loftus te gaan kyk.

Daar was ook helde soos Bryan Habana wat die skare se gunsteling was. Die enigste verskil is daar was net 'n klein bietjie meer bloed.
Mense verander nie regtig nie. Die ergste is, die mense van antieke Griekeland het ook gesê die jong mense van daardie dae was besig om agteruit te gaan.

Elke ouer geslag voel dat die jonger geslag beter daaraan toe is as wat hulle was.
Daardie aaklige woorde wat altyd in my ore bly raas - "toe ek jonk was . . .".

Ja, in hulle tyd was dit dalk so 'n bietjie anders en die wêreld het verander, maar die mense is min of meer dieselfde.
En moet nou nie in 'n depressie verval omdat jy bang is vir grys hare en plooie nie.
Iemand het eenkeer gesê: "The fear of getting old doesn't keep you from getting old.It only keeps you from living."
Geniet dus elke sekonde van jonk wees, dit gaan nie vir altyd aanhou nie.

- Christiaan du Plessis is 'n JJ van die Hoërskool Swartland in Malmesbury.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar