Skool mag dalk vervelig voel, maar het jy al gedink hoe ongelooflik baie jy in 12 jaar doen?
Hier is 'n paar berekeninge wat jy interessant sal vind: Van gr. 1 tot in matriek gaan jy ongeveer 2440 dae skool toe, dit is sowat 14640 uur. Jy het ongeveer 2440 uur pouse. Jy het 'n gemiddeld van 17 dae saalbyeenkomste en sing die skoollied ongeveer 150 keer. Jy doen 'n halwe jaar lank huiswerk (dis as jy jou huiswerk elke dag doen.)
Jy praat ongeveer 48 keer mondeling. Jy loop ongeveer 650 km as jy klasse wissel. Indien jy elke dag van jou hoërskoolloopbaan 'n blikkie gaskoeldrank drink, het jy teen gr. 12 al 2 000 liter gaskoeldrank (slegs by die skool) gedrink en indien jy meer van water hou en jy drink elke dag 8 glase water (soos daar van jou verwag word) het jy teen die einde van matriek 11 500 liter water gedrink. Jy hoor die skoolklok meer as 21 960 keer lui. As jy elke dag van jou lewe iets by die snoepie koop, het jy teen matriek die snoepie met bietjie meer as R32 000 ryker gemaak.
Twaalf jaar klink lank, maar vra enige matriek, dit vlieg behoorlik. Geniet elke dag en sing jou skoollied uit volle bors, al is dit die 150ste keer. Moenie skool bank nie, want eendag gaan jy terugverlang .
Viva skool! Maak die beste daarvan.
Le-Anke de Lange is 'n JIP-joernalis en 'n leerling aan die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth.