Jeugdag rede vir fees

  • 9
    like dit
  • 0
    like dit nie

Môre, met die fokus op Jeugdag, gaan die vraag opnuut gevra word: "Wat word van die jong klomp?" Want julle . . . skynbaar is ons op pad na nêrens!

Wie kan ons kwalik neem? Daar is dwelms, moord en leë pakkies sigarette. Daar is bose invloede en buitelands-ingevoerde onsedelikheid. Moomin en Haasdas se Nuuskas is van die televisie afgehaal en met Chinese animasie-weergawes vervang.
Die tradisionele gedigte verdwyn en oral waar jy kyk is soetsappige opskrifte gevolg deur sensasie.
Literatuurstukke vervang met glansblaaie.

Ons poppe en karretjies is weggegooi om plek te maak vir Action Man en kunsmatige, pratende babas. Geen wonder daar is geweld en onbeplande swangerskap in skole nie.
Ons leef in skynbaar traumatiese omstandighede en verder is die toekoms tragies en donker. Wel, dit is wat "hulle" sê.
Dankie tog - ons weet altyd beter.

Môre, 16 Junie, is Jeugdag. Ons herdenk die Soweto-opstande, die tieners wat destyds opgestaan en betoog het vir hul regte, vir dit waaraan hulle glo.

Ons herdenk die tieners wat hul lewens in 'n struggle vir vryheid verloor het, die 1976-protesaksies en die tragedie daarna. Dit is 'n herdenking, maar môre is vir my eerder 'n feesviering. Omdat ons, volgens my persoonlike opinie, iets ís om oor fees te vier - ongeag die deurmekaar wêreld waarin ons moet grootword en die oumense wat ons radikale doen en late partykeer al fronsend kritiseer. Hierdie ís die beste tyd van jou lewe.

Sonder rekenings en belastings wat betaal moet word. En boedels, en rumatiek en allerhande wettige verantwoordelikhede.

Ons is vry.

Anders as Hector Peterson en sy dapper kamerade, stap ons miskien nie onder die gevaar van rubberkoeëls polisiekantoor toe nie. Anders as die meeste grootmense, is ons is miskien nie altyd besig met iets "sinvol" of verpligtend nie.
Maar steeds is ons besig om onder die algemene chaos van tienerwees te floreer.

Ons volg ons eie koppe. Ons maak hulle bang en verbouereerd, want ons is onmoontlik om in 'n konserwatiewe boks te pas. Ons is anders, ons is sponse van inligting en ons is individue.

Elkeen op sy eie mission en met uitgesproke opinies. Tussen swart-en-wit reëls en regulasies soek ons moontlikhede. Ons is uniek, maar ons is ook almal verenig in die oeroue tiener-wees-struggle: om die wêreld uit te pluis en antwoorde te vind.
Ons is die jeug van vandag. Hou ons dop en kyk wat ons nog gaan bereik.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar