Jacques Kallis word verewig

  • 20
    like dit
  • 3
    like dit nie

Jacques Kallis is ongetwyfeld een van die beste veelsydige krieketspelers tot nog toe. Daarom het sy alma mater, die Hoër Seunskool Wynberg in Kaapstad, verlede week sy hoof-krieketveld na hierdie reus genoem. Marco Botha was by die onthulling langs die Jacques Kallis Oval en het 'n paar woorde met hom gebreek.

In die Springbok-rugbykaptein se boek, Captain in the Cauldron - The John Smit Story, maak hy gereeld melding van sy skooldae aan die Hoër Seunskool Pretoria en die invloed wat dit op sy loopbaan gehad het. Beskryf jou ervaringe as 'n tjokkertjie aan Wynberg.

Ek het 'n klomp lekker herinneringe aan die skool en dink ek was een van die min ouens wat nogal van skool gehou het - seker sport se skuld!
Maar ek het billike punte gekry en gedoen wat gedoen moes word. Wat sport betref, was ek altyd bevoorreg om goeie afrigters te hê en in skitterende spanne te speel. Dit geld rugby en krieket. Die ouens om my was 'n begeesterde klomp!

Moes jy ooit tussen rugby en krieket kies?

Ja, ek moes. Ek het altyd gedink ek is 'n beter krieket- as rugbyspeler. Ek dink dit was in my matriekjaar dat ek moes kies tussen Cravenweek-rugby en die kans om saam met die Suid-Afrikaanse o.17-krieketspan oorsee te gaan. Ek het krieket gekies, en dit was die regte besluit.

Jy gee danksy die Jacques Kallis-stigting heelwat jong krieketspelers die geleentheid om na van die land se top-skole te gaan. Wat was jou motivering om hierdie ontwikkelingsprogram op die been te bring?

Ek was bevoorreg om in 'n goeie skool soos Wynberg te wees. Maar daar is baie talentvolle spelers wat die boot mis omdat hulle nie na skole soos Wynberg kan gaan nie.
In 'n poging om iets vir die spel terug te gee, ken ek jaarliks 'n paar beurse aan van die land se voorste krieketskole toe.

En selfs al haal hulle nie die krieketspanne nie, kry hulle 'n goeie akademiese opleiding en word hulle belangrike lewenswaardes geleer. Die hele skool-ervaring is belangrik.


Beoog jy groter betrokkenheid by die stigting nadat jy jou kriekettoerusting eendag finaal weggebêre het?

Weens ons besige toerprogram is ek ongelukkig nie so betrokke by die stigting soos ek wil wees nie. Maar ek maak tyd en hou 'n ogie oor sake. Dit sal egter die kersie op die koek wees indien ek eendag met 'n koue drinkdingetjie op die hoofpaviljoen kan sit en sien hoe een van my spelers deur die stigting gekom het om vir Suid-Afrika te speel.
Selfs nou kry ek soveel bevrediging uit die stigting as ek sien hoe spelers die geleenthede wat hulle kry, met albei hande aangryp.

Wat was jou reaksie toe jy die eerste keer hoor Wynberg wil sy krieketveld na jou noem?

Ek het 'n paar maande gelede hiervan gehoor, en dit is 'n enorme voorreg. Op hierdie einste veld het ek baie krieket gespeel. Dit is waar my loopbaan begin het.
Daarom is dit 'n verrykende ervaring om te weet dat daar 'n veld is wat na my genoem is.

Kry jy af en toe tyd om hier sport te kom kyk?

Inderdaad. In die somer is dit moeilik, maar in die winter kom kyk ek graag rugby. En om dan die telefoon op te tel en 'n paar pelle te laat weet dat Wynberg hul skole pak gegee het, is altyd baie pret!



Kallis


Vinnige feite oor Kallis

Meeste toetslopies in loopbaan
1. S. Tendulkar (1989-2009): 12 917
7. J. Kallis (1995-2009): 10 277

Hoogste kolfgemiddelde in toetse
1. D. Bradman (99,94)
18. J. Kallis (54,66)

Meeste 100-talle in toetse
1. S. Tendulkar: 43 in 161 wedstryde
6. J. Kallis: 31 in 131 wedstryde

100-talle in opeenvolgende toetse
1. D. Bradman (1937-'38-seisoen): 6
2. J. Kallis (2003-'04): 5

100-tal en 5 paaltjies in 'n beurt
J. Kallis (2 keer):
110 en 5/90 (t. W.I. in 1998-'99)
139* en 5/21 (t. Bang. in 2002-'03)

Bron: www.cricinfo.com

Gebruikers Kommentaar (18)

  • Ethan
    5 months ago
    Jacques Kallis is goed maar ek dink Amla gaan nog eendag beter as hy wees. Kallis is die anker van KSA.

  • 5 months ago
    En vandag,soos by soveel ander geleenthede,red hy weereens ons bas in Indie met 113 nie uit nie,en dit nadat ons 6 vir twee was.Ongetwyfeld die wereld se beste veelsydige speler en sekerlik onder die top 5 van alle tye.

  • 7 months ago
    Well done from you admires in the U.S.A.Both my sons (Danie and Stanley Ochse played cricket for Paarl Boys High ,Nuffield S.A.Platelands schools .We are proud of you .Keep up with the GOOD WORK
    Danie and Bernadine Ochse
    Florida U.S.A
  • Marco
    7 months ago
    Jy's reg Likwed. Dit is egter die Media24-styl om skole tot die regte Afrikaanse te vertaal, daarom "Hoër Seunskool Pretoria". Dieselfde geld vir Wynberg. Om verwarring met Affies te voorkom, sou ons dit as die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria geskyf het.

    Blog voort, B(l)oggers!
  • Ryno Potgieter
    7 months ago
    Ek is so bly jy kry hierdie terwyl jy nog speel. Ek dink nie die publiek besef REGTIG watter lewende legende jy is nie. Na my onlangs hartaanval gaan ek beslis hierdie reeks teen de Engelse EKSTRA geniet.
Bladsy 1 van 4
<< Vorige | Volgende >>
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar