Is koshuislewe nog relevant?

  • 4
    like dit
  • 0
    like dit nie
Blogger:

Ydi Coetsee

'n Mens wonder soms hoekom in die tyd waarin ons lewe, waarin ons individualisties, demokraties en krities van tradisionele magsstrukture is, dit nog nodig of belangrik kan wees om in 'n universiteits koshuiskultuur in te skakel.


Studente, veral op Stellenbosch, word gereeld herinner dat koshuislewe oor soveel meer gaan as jou verblyf, jou etes en jou wasgoed.


Hoekom is hierdie koshuiservaring nog uniek en belangrik en wat bied dit vir ons in hierdie tyd en plek?


Wanneer ons universiteit beskryf as ‘n plek waar die kritiese benadering en hantering van kennis belangriker is as die fisiese opdoen daarvan, sou ons baie dinge in langtermyn perspektief kon plaas, sonder om dit noodwendig op ons toetsuitslae te sien.


Dieselfde, dink ek, kan van koshuislewe gesê word. Niemand gaan aan ‘n eerstejaar verduidelik wat die nut is van blommetjies vou, sirkels loop om die lamppaal in die quad, en ure se danspassies aanleer vir Venstervertoning nie.

Tog doen ons dit jaar na jaar. Die geheim vir my hierin lê in die deelneem aan iets groter as jouself, die verantwoordelikheid om by te dra tot die ‘gemeenskapskultuur' waarin jy jouself bevind. Behalwe dat koshuisdinge soms 'n belangrike sosiale funksie het, leer dit ons ook dat harde werk en korttermyn opoffering nodig is vir die positiewe groei van 'n gemeenskap, en dat dinge eenvoudig nie gebeur as almal terugsit nie.


Vanuit 'n soms passiewe lewensuitkyk, waarin ons bakhand wag vir híér en nóú se lekker dinge, dink ek die koshuis leer ons om passievol te raak oor 'n bydra wat dalk eers jare van nou af gesien of geniet kan word, en natuurlik ook die dinge te geniet wat ons voorgangers vir óns in plek gestel het.


Miskien maak dit dus nie saak of JOOL regtig t.b.v. MGD is en of koshuislewe na harde werk en opoffering lyk nie. Al die kultuuraande, skakelings, trollieresiese, tradisies, danse en funksies en koffies en sjerries is pret, en word ‘n aanmoediging om, ook ná Universiteit, ons tyd en energie te gee sonder om altyd die vrugte self te pluk.

Ydi Coetsee is 'n inwoner van Harmonie dameskoshuis op Stellenbosch. Hulle skakel met Huis Hippokrates van die Tygerberg kampus vir JOOL 2011.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar