Is jy kuber-kwesbaar?

  • 13
    like dit
  • 6
    like dit nie

Ashleigh Hall was 'n 17-jarige meisie wat een fout gemaak het. Haar ma het gedink sy gaan by 'n vriendin oornag, terwyl sy in werklikheid 'n ontmoeting gereël het met 'n Facebook-vriend wat sy nog nooit in lewende lywe ontmoet het nie.

Sy het 'n 17-jarige seun verwag, maar in werklikheid was die tienerpersona met wie Ashleigh bevriend geraak het, slegs 'n front vir Peter Chapman, 'n 33-jarige man wat haar dieselfde dag vermoor het.

Die internet, selfone en sosiale netwerke is nie per definisie euwels in ons samelewing nie. Dit is immers hierdie netwerke wat dit moontlik maak om met jou vriende oorsee te kommunikeer, 'n e-pos te stuur, jou ma te SMS, ­foto's met jou vriende te deel, navorsing te doen en video's te kyk.

Maar dit stel ons ook bloot aan 'n reeks gevare soos kuberboelies, identiteitsroof en pedofiele, en onder die gevolge tel die sogenaamde sexting (wanneer seksuele boodskappe of beelde via selfone of ander digitale media uitgereik word).

Werner Kruger, 'n IT-spesialis, meen sosiale netwerke het in die algemeen baie voordele. "Dit skep 'n platform om individualisme te bevorder deur middel van spraakvry- heid en menings. Dit maak ook die wêreld 'n baie klein plek deur maklike en vrye kommunikasie met vriende en familie.

Die nadeel is dat dit 'n slegte tendens by jong mense kweek om minder sosiaal te verkeer, wat weer 'n negatiewe invloed kan hê op mense se algemene kommunikasievermoë. Omdat sosiale netwerke vir mense 'n ‘nuwe' realiteit is, en mense ook op 'n baie jong ouderdom daaraan blootgestel word, skep dit 'n gaping vir slegte invloede om 'n groot gevaar te wees."

Die gevolge raak ook al meer tasbaar. Phoebe Prince, 'n 15-jarige Ierse immigrant van Massachusetts in Amerika, het glo selfmoord gepleeg nadat sy deur ander meisies geterg en geboelie is, dikwels via Facebook. Asof tieners nie tydens pouse genoeg kan skinder nie, maak tegnologie dit nou makliker om 'n lewe binne enkele sekondes te verwoes.

Kyk maar ter illustrasie na 'n onlangse episode van die TV-reeks 90210. Annie weet nie 'n naakfoto is van haar geneem nie, en Naomi wil wraak neem. Sy kry die foto maklik in die hande en stuur dit aan die hele skool. Annie is verpletter. Dit is nou wel 'n storie, maar dis 'n storie wat jou eie kan word.

Die hoofbron van kommer blyk te wees dat mense nie paraat is oor hul aanlyn-veiligheid nie en onwetend baie private inligting deel. Soveel te meer tieners wat dikwels sonder skroom die intiemste oomblikke met familie en vriende op onder meer Facebook plaas.

Dink gou aan jou eie profiel: 'n Eenvoudige status update kan 'n pedofiel inlig in watter skool jy is. Foto's wys wie is jou vriende, updates oor wat jy doen of watter sport jy speel, kan dit vir iemand maklik maak om vas te stel presies waar jy watter tyd van die dag is. Selfoonnommers stel vreemdelinge in staat om jou te bel, terwyl 'n adres 'n kuberboelie tot by jou deur kan lei.

Seks en die kuberruim
The National Campaign to Prevent Teen and Unplanned Pregnancy in Amerika het onlangs saam met www.­cosmogirl.com 'n peiling gedoen om die interaksie tussen tieners, seks en tegnologie bloot te lê. Duisende mense tussen 13 en 26 jaar het hieraan deelgeneem. Die bevindinge was onder meer dat minstens 20% van tieners al naakfoto's elektronies gestuur het, terwyl 39% al suggestiewe boodskappe gestuur het.

Boonop het 22% gesê sexting het hul gedrag beïnvloed, terwyl 38% meen dit maak uitgaan makliker. 'n Opname van 2008 vir McAfee Security het gewys twee-derdes van ma's van tieners is net so bekommerd oor aanlyn-veiligheid soos oor dwelms of dronkbestuur, maar minder as 50% het geweet wat hul kinders op die internet doen.

Wenke vir ouers
Praat met jou kind oor wat hy of sy in die kuberruimte aanvang. Oorweeg beperkings op elektroniese kommunikasie en maak duidelik wat jy as gepaste gedrag beskou.


Gevaartekens:
-  as iets nie reg voel nie;
- as die geselsies te persoonlik raak;
- as die skrywer jou kind wil ontmoet; en
- as geskenke belowe word.

Voordat jy daai knoppie druk, dink weer...
Onthou jou privaatheid is nie gewaarborg nie. Al stuur jy iets net aan een mens, kan daardie mens dit nog aan tien ander mense wys. Niks is ook werklik anoniem nie, so sit 'n wag voor jou spreekwoordelike mond of dra die gevolge.
Jy kan nie jou besluite in die kuberruimte verander nie - as dit eers gestuur is, gaan dit nooit regtig weg nie en dan is jou volgende kopseer (ná vernedering) dat 'n potensiële baas, onderwysers en afrigters, selfs jou toekomstige skoonma, dit dalk kan sien.
Moet byvoorbeeld nie jou van, adres, telefoonnommer, skool- of universiteitsbesonderhede, reisplanne of sosiale planne bekend maak nie. 


Bronne: "Sex and Tech"-opname deur cosmogirl.com en The National Campaign to Prevent Teen and Unplanned Pregnancy, www.dailymail.uk, www.webwisekids.org, www.mtv.com, www.­news24.­com


 


 

Gebruikers Kommentaar (7)


  • 3 months ago
    hulle moet gestraf word

  • 4 months ago
    Jis Jis julle boelies
  • Gideon Grobler
    18 months ago
    Dis 'n aaklige ding wat ge-beur het danksy facebook
  • ai-ai
    21 months ago
    Die internet het sy voordele en ek is self 'n aktiewe gebruiker daarvan. Ek het egter al vroeg-vroeg besef dat die internet soos 'n swart gat kan wees waarin jy kan verdwyn, veral die websites en mede gebruikers wat met hul suikersoet smileys jou lok om deel te neem en jou so bietjie vir bietjie sag maak en dit by jou tuis bring dat wat hulle verkondig en promoveer goed en reg en aanvaarbaar is. Wees eerder 'n versigtige internetgebruiker en dink twee, nee drie keer wat jy op die internet plaas, jy weet nooit wie dit sien nie - baie van die ouer garde is nie so tegnologies-gestremd soos wat jy dink nie.

    O ja, Rainier, hierdie is jip se website, nie mxit nie, wend ten minste 'n poging aan om reg te skryf, veral waar so baie mense die getjommel moet lees.
  • magriet
    21 months ago
    Ek hoop die 'mense' wat hule beywer om die jongmense, en veral jong meisies te teister, wat beloftes aan hulle maak, wat lieg, wat met allerhande gedagtes in hulle koppe rondloop, en hoop hulle het slapelose nagte. Terwyl die tegnologie, en veral rekenaars 'n groot hulp en voordeel en gemak vir ons verskaf, is dit ongelukkig ook die broeiplek vir siek mense wat daarop uit is om op enige manier, enige plek, enige iemand wat naief is, te teister en te gebruik tot hulle eie voordeel. Ek hoop werklik dat hierdie sielsiek asook gewetenlose mense na binne sal kyk en besef wat hulle besig is om te doen. Dit is totaal onverskoonbaar
Bladsy 1 van 2
<< Vorige | Volgende >>
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar