Dit gebeur elke dag met iemand: Jy moet 'n keuse maak oor iets waaroor jy nie so seker is nie.
Ons álmal gaan daardeur: die groen of die blou top? Gaan ek hom bel of SMS? Moet ek vandag my tande borsel of nie (hei, dit het al een baie lui Saterdag met my gebeur)?
Soms kom ons net op 'n tydstip waar ons nóú moet besluit, maar so bang is.
Ek dink 'n "probleem" wat baie van ons het, is om te laat gaan. Ons voel ons moet in beheer wees van elke besluit en gevolg daarvan.
Benewens die besluit om 'n tatoe te kry, was een van die groot besluite wat ek moes neem, wat ek met my lewe wil doen.
Ek het altyd gehoop om ryk te trou en die wêreld vol te reis en dalk, net dalk, 'n kinderboek iewers op 'n Suid-Amerikaanse eilandjie neer te pen.
Maar toe ek nog boyfriendloos was ná matriek (hel, my eerste vry was maar daardie jaar!) en gesien het dat ek "iets" met my lewe sou moes doen, het ek die universiteitsbrosjures nader getrek.
Ek onthou die eerste keer toe ek besluit het om 'n joernalis te word. Al rede was om vir Herschelle Gibbs te ontmoet (genuine), en ek wou 'n werk hê waarin ek kon skryf en nie met sommetjies hoef te werk nie.
My Afrikaans-juffrou het voorgestel dat ek joernalistiek swot. Ek het iets gesê soos "joernalisme klink cool" waarop ek die arme vrou amper deur die dak laat spring het.
"Dis joernalisTIEK."
O.
En met toe ogies het ek vir die kursus ingeskryf. Só onseker. Só bang.
Die eerste gevoel wat 'n mens gewoonlik kry is: Wat as dit 'n fout is?
Wat as daar nie uitkomkans is nie, en ek 'n gek van myself maak?
Maar jy doen dit, omdat "iets" binne-in jou kleintoontjie jou in daai rigting stuur. Vir sommiges is dit dalk daardie vroulike sesde sintuig, vir ander gaan dit oor die dryfkrag. Vir my gaan dit bloot oor daardie "gaan ek spýt wees indien ek dit nié doen nie"-vraag.
Ek staan nou weer by so 'n kruispad. (Nee, ek bedank nie, liewe baas!)
Maar my gut sê vir my ek gaan vir ewig spyt wees as ek dit nie probeer nie.
Ek wil mense nie aanmoedig om dom dinge te doen nie, maar wel om besluite te neem wat nie jare later by jou gaan spook nie.
Want glo my, in my 20's is ek tot vandag toe spyt dat ek Gibbs nie net één keer gevry het nie.