Interskole-koors loop hoog in Paarl

  • 1
    like dit
  • 0
    like dit nie
Talle Maties wat oudleerders van Boishaai is, het Maandagaand in die Eikestad byeengekom voor die jaarlikse interskole-kragmeting.

Interskole-koors in die Paarl bereik breekpunt voor môre se stryd tussen die eerste rugbyspanne van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS) en die Hoërskool Gimnasium.

Die gees het die dorp reeds vroeër dié week getref met onder meer bome, winkels, motors en huise getooi in die kleure van dié twee skole, asook HJS se susterskool, die Hoër Meisieskool Paarl.

Verskeie bedrywighede - onder meer reünies, sportwedstryde, ook tussen oud-studente, asook Gimnasium se Mnr. en Mej. Interskole - vind sedert Maandag plaas.

Oud-Boishaaiers van Maties se Blou-aand het Maandagaand in Stellenbosch plaasgevind.
Gimnasium het die eerste groot slag geslaan toe Klein Gim se o.13-rugbyspan gistermiddag met 7-0 teen Klein ­Boishaai gewen het. Boishaai se o.13-hokkiespan het Gimnasium met 8-0 kafgedraf.

Die Laer Meisieskool se netbal- en hokkiespanne het met onderskeidelik 17-12 en 3-0 teen hul eweknieë van Klein Gim geseëvier.
Woensdagaand het Gimnasium se Old Boys HJS se Old Boys met 24-19 geklop, terwyl HJS se Golden Oldies die Gimmies met 8-5 gewen het.

Die Hoër Meisieskool (HMS) en Gimnasium se eerste hokkie- en netbalspanne speel vandag onderskeidelik om 16:15 en 15:00 op HMS se bane teen mekaar. Boishaai en Gimnasium se eerste hokkiespanne speel môre om 10:55 op Gimnasium se Astro.

Die o.14A-rugbywedstryd vind vandag om 15:15 op Gimnasium se A-veld plaas. Die ander rugbywedstryde word ook vandag van 14:00 af by Gimnasium gespeel.

Die o.15A-rugbyspanne se wedstryd begin môre om 12:05 op die Faurestraat-veld, gevolg deur o.16A (13:15), o.19B (14:35) en die eerste spanne (16:00).

Mnr. Nico Monsen, voormalige afrigter van Gimna­sium se eerste rugbyspan en lid van die interskole-reëlingskomitee, het gesê die interskole-gees loop hoog.

"Die helfte van die dorp is met die blou en wit kleure van Boishaai versier en die ander helfte met Gimnasium se rooi, groen en geel."

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar