Internet rehabilitasie is nou beskikbaar vir tieners wat te veel tyd aan moderne tegnologie bestee.
Die Daily Mail berig dat kinders wat verslaaf is aan onder meer die internet, rekenaarspeletjies en selfone, nou hulp kan kry van wat beskou word as die eerste tegnologie-verslawingsdiens vir jong mense in Brittanje.
Die Capio Nightingale-hospitaal in sentraal-Londen, waar Amy Winehouse vir dwelmverslawing rehabilitasiehulp gesoek het, het pas 'n nuwe diens geloods vir pasiënte so jonk as 12 jaar oud nadat bekommerde ouers die hospitaal genader het vir hulp met hul kinders. Jong mense sal stelselmatig van hul tegnologiese speelgoed moet afstaan en sal ook aangesig-tot-aangesig sosiale vaardighede aangeleer word.
Een psigiater het aan die Daily Mail vertel dat ouers hom genader het nadat hul kinders in woede gereageer het toe hulle gesê is om hul rekenaars af te skakel. In sekere gevalle moes die polisie selfs gekontak word om die bakleiery stop te sit.
Tieners wat aan tegnologie verslaaf is, word ook "screenagers" genoem.
Lees die volledige berig hier.