Mense wat my ken, weet nou al dat ek nie oorskietkos op hul borde duld nie. As hulle dit nie self wil eet nie, sal ek. Dit is egter nie die tipe filosofie wat vir jou respek tussen vreemdelinge verdien nie.
Om die een of ander rede het die Weste mos 'n samelewing tot stand gebring waar die mors van kos amper verplig is. Die probleem is nie mense wie se porsies in 'n restaurant te groot is nie. Die probleem is as miljoene mense se porsies te groot is en daar dan tonne kos weggegooi word terwyl daar oorgenoeg honger mense buite die deur wag. Blykbaar is daar tonne kos van die sokkerstadions se losies af weggery en weggegooi.
My inherente vrees dat my volgende maaltyd dalk nooit gaan kom nie, is soveel erger gemaak toe ek onlangs 'n maand lank deur die land geryloop het.
Terwyl 'n mens met jou duim in die lug langs die N2 staan, twyfel jy nogal of enige kar vir jou sal stop, wat nog te sê of iemand jou gaan voed. Tot my groot verbasing het Suid-Afrikaners nie net hulle karre en huise vir my oopgegooi nie, maar ook hul yskaste.
Op die meeste plekke is ek deur vreemdelinge soos 'n koning behandel.
In verskeie huise het mense sommer vir my 'n buffet voorgesit. Daar is een ding wat jy nie vir 'n koshuiskind moet gee nie, en dit is 'n buffet. Voordat jy jou oë uitvee, is hy besig om gerookte salm in roomys te doop en dit bo-op skaaptjops en komkommerstukke te laai. Die volgende happie is dalk 'n lekker stuk kaas op spanspek, met 'n uiering op.
Dis nie dat ek van sulke belaglike kombinasies hou nie, dis net dat 'n koshuiskind totaal oorweldig word deur die keuses voor hom. Dit hou egter dinge aan tafel interessant.
Die een waarheid wat ek op die pad besef het, is dat identiteit deesdae soos 'n buffet geword het. In die ou dae is jy in jou tipe identiteit gebore en kon min dinge jou daar uitkry. Sommiges was wit Afrikaanse Christene met 'n voorliefde vir Steve Hofmeyr en Leon Schuster-flieks. Ander was bruin Engelse Indiërs met 'n voorliefde vir Ravi Shankar en Bollywood-flieks.
Deesdae kry 'n mens swart Engelse Zoeloes wat in metal-bands speel, soos die Dirty Skirts aantrek en kerk toe gaan. Met die koms van die internet het identiteit letterlik 'n oneindige keuse geword. Jy kan nou jou invloede van enige plek af kry, jou eie kombinasies maak en dit dan uitleef nes jy wil. Ons is nie meer beperk tot waar ons vandaan kom of in watter geloof of kultuurgroep ons gebore word nie.
Omdat ons identiteite so wyd en divers is, is daar baie meer raakplekke as wat ons ooit vantevore met vreemdelinge kon hê. Ons almal het iewers vriende wat wag om ontmoet te word.