"Hugo" gaan kykers bekoor

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Asa Butterfield speel die hoofrol in Martin Scorsese se magiese prent Hugo.

Hugo
Fantasie


Met Ben Kingsley, Sacha Baron Cohen, Asa Butterfield, Chloë Grace Moretz , Ray Winstone, Emily Mortimer, Jude Law


Regie: Martin Scorsese

Elke raampie van Martin Scorsese se fliek Hugo verklap sy verknogtheid aan die medium waarin hy al meer as vier dekades werk.

Dié voorloper in die Oscar-resies verdien al sy benoemings. Dit is 'n liefderyk versorgde, asemrowende droom.
Die motto van die eintlike hoofkarakter - die rolprentpionier ­Georges Méliès (1861-1938) - is nie verniet "Rolprente is die plek waar jou drome waar word" nie.

Dit is 'n fantasie vir kinders oor 'n weeskind wat dink sy horlosiemaker-pa het vir hom 'n boodskap in 'n outomaat nagelaat - hy moet dit net met die regte skroewe en 'n verlore sleutel ontsluit.

Hy het die verantwoordelikheid van sy dronkaard oom oorgeneem om die horlosies in 'n Paryse treinstasie op te wen. As hy 'n minuut mis, sal die stasie-inspekteur onraad vermoed en hom in die weeshuis prop. Die prent draai telkens by die donker hopeloosheid wat herinner aan Charles Dickens; trouens, die karakter van Hugo herinner aan 'n ­Dickens-held wat die wêreld met min toerusting en nog minder hulp moet aandurf.

Dan word die saai stasie omskep in 'n towerwêreld van alledaagse intriges. In 3D word die stoomtreine, die ingewikkelde loop van die ratwerk en klokslae van die horlosies, omgetower in iets besonders.
Ons word oorrompel deur onskuld, hou asem op oor die dapper seuntjie se pogings om weer vir homself 'n tuiste te maak. Saam met Hugo (Asa Butterfield, 'n aanwins vir die fliek) en sy vriendin Isabelle (Chloë Grace Moretz) ontdek ons opnuut die towerkrag van die rolprentkuns in 'n matinee met daardie legende van die stilflieks Harold Lloyd, wat jou laat skater met sy strak poeiergesig. Vir dié weeskinders is die rolprent hul tuiskoms. Soos 'n mens kan aflei uit die nostalgiese inslag van die prent, geld dit ook Scorsese.

Terwyl baie kinderflieks deesdae so alwys en lewensmoeg is - uitgedruk met die sêding whatever - kry ­Hugo dit reg om onbeskaamd grootoog en skurwe-knieë te wees.
Groot dele van die prent is 'n ode aan die rolprentpionier Méliès, bekend om sy innovasie en dapper gebruik van visuele effekte. Hier kan dit egter net te tegnies raak vir die gewone kyker; Scorsese se bewondering loop soms oor.

Die spel van Ben Kingsley as dié vergete rolprentmaker sal min onaangedaan laat, so ook Sacha Baron Cohen se tragikomiese spel as die stasie-inspekteur. George Lee maak 'n elegante buiging as 'n boekverkoper wat presies weet watter boek 'n kind nodig het.

Hugo se verwondering en grootse droom is aansteeklik.

Ouderdomsperk: OL. Tydsduur: 126 minute.

Soortgelyke prent: Cinema Paradiso.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar