Ek sit in Ceres.
Drie dae laas gestort.
Ek kan myself ruik. Die mense agter my in die Spur het gevra of hulle ’n ruit kan oopmaak.
Dis nie net ek nie. Daar’s 18 van ons.
Fokofpolisiekar het ’n musiekvideo-shoot gehad op ’n soutpan iewers aan die gatkant van Calvinia.
Daar het ons in die hitte van 37 grade Celsius rondgespring en geskree en kitaar gespeel.
Tussen takes moes ons op die grond rondrol om die make-up “reg” te kry.
Geen storte nie, geen selfoonsein nie, geen toilette nie.
Met die gevolg dat ek my eerste “veltie” op die rype ouderdom van 26 gevang het.
Ware bevryding kos eintlik niks nie.
Jy kan niks aanskaf wat jou gaan vrymaak nie.
Jy gaan moet weggooi. Wanneer laas het jy in ’n plek sonder ’n selfoonsein gebly?
Tien jaar laas vir my.
Hoe de hel het mense sonder dié goed ge-operate?
In die proses van die stowwerige bundu-bash het drie van ons voertuie se bande gebars en hulle moes langs die pad gewag het omdat ons flippin’ drie uur enige kant toe van enigiets af is.
Sonder selfone is dit ’n stresvolle situasie, te gekompliseerd om vinnig te verduidelik.
Dit het te doen met vriendelike boere, 80’s-horror-flieks en paranoia.
“Hier maak ons mekaar dood en begrawe die lyke en niemand sal ooit daarvan uitvind nie.”
Die ominous verwelkoming tot die Tankwa-natuurreservaat.
Met ’n selfoon kon jy net gebel het om te hoor of alles nog orraait is in die ander kamp.
Sonder selfone is daar nie regtig veel wat ’n mens kan doen nie.
So ’n paar dae sonder die gemak van die moderne lewe se gadgets maak jou nogal dankbaar vir die eenvoudige tegnologiese uitvindsels van die afgelope 2 000 jaar.
Soos lopende water en die simbool van die mens se mag oor die aarde, naamlik die toilettroon.
Behalwe vir die ooglopende komplikasies is die absolute afsluiting van die buitewêreld eintlik ’n ongelooflike empowering ervaring!
Ek het dit gemaak! Lewend en gesond!
Miskien nie vir lank nie, though. Dis gevaarliker binne-in die samelewing.
Ons director is mal en Engels en hy ken nie regtig Fokofpolisiekar se geskiedenis nie, met die gevolg dat hy nie kon verstaan hoekom ons ’n bietjie ongemaklik was daaroor om voor ’n brandende tienvoet-kruis te staan en speel nie, maar nou ja. Hy kan maar al die pers se vrae self beantwoord.