Het skoolkinders net "grap" gemaak met seksfoto's?

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Dr. Louis Dey, gewese adjunkhoof van die Hoërskool Waterkloof.

Hoekom het drie oudleerlinge van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria dan nie hul eie ouers se gesigte op 'n gemanipuleerde foto met sterk seksuele ondertone gesit as dit vir hulle net 'n onskuldige grap was nie?


So vra dr. Louis Dey, gewese adjunkhoof van die skool, in skriftelike betooghoofde wat gister by hoofregter Sandile Ngcobo ingedien is.


Die betooghoofde is ingedien in die geding waarin die drie oudleerlinge vra om appèl aan te teken teen bevindings van die hooggeregshof in Pretoria en die appèlhof dat hulle Dey belaster het.


Die konstitusionele hof sal aanstaande maand mondelinge betoog daaroor aanhoor.


Sowel die hooggeregshof as die appèlhof het skadevergoeding van R45 000 aan Dey toegestaan, maar die appèlhof het 'n baie swaarder regskostebevel teen die seuns gemaak as die hooggeregshof.


Op die foto is die gesigte van Dey en die gewese hoof van die skool, dr. Christo Bekker, op die lywe van twee naakte, gay liggaamsbouers gemanipuleer.


Die oudleerlinge hou vol die hele debakel was net 'n "grap", dat hulle nie eens geweet het wat laster is nie en dat hulle aanvanklik gedink het hulle word daarvan beskuldig dat hulle God gevloek het.


Die oudleerlinge is Hendrick le Roux (19, destyds 15) en Burgert Gildenhuys en Reinardt van Rensburg (tans 21, destyds 17).


Luidens Dey se stukke het die appèlhof tereg gesê: "'n Grap ten koste van iemand anders kan maklik op laster neerkom."


As die drie seuns so naïef en onkundig oor hul bedoelings met die foto was soos hulle nou sê, sou dit mos geen saak gemaak het as hulle 'n soortgelyke foto met hul ouers se gesigte op by die ouers se werkplek versprei het nie, voer hy aan.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar