Michael Pienaar, kaptein en senter van Hennenman, trek sy ore plat in sy span se oorwinning.
Die Hoërskool Hennenman se eerste rugbyspan het in 'n uiters suksesvolle eerste interskole teen Sand du Plessis hier as oorwinnaar uit die stryd getree.
Die tuisspan het met 15-13 in dié kragmeting koning gekraai. Hennenman se kaptein en senter, Michael Pienaar, was die groot held in sy span se sege. Hy het met sy drie sy span die oorhand in die tweede helfte help kry. Die wendrie het egter van die flank Freddie Wepener gekom.
Sannies se beste speler was Wentzel van der Sandt (vleuel), terwyl Jacques Labuschagne se betroubare skopskoen soos gewoonlik 'n bate vir sy span was. Drean van der Merwe (flank) het ook goed vertoon. Sannies se netbalspan was in hul kragmeting teen Hennenman met 35-25 baas.
Op Odendaalsrus het Wessel Maree 'n tree nader aan die plattelandse halfeindstryde gegee deur Salomon Senekal met 38-5 te verslaan. Wessel Maree is tans derde op die Sandveld-liga se puntelys met een wedstryd oor, teen Theunissen. Bothaville (34 punte), wat tans tweede is, het Vrydag met 5-15 die knie teen Hoopstad gebuig.
Johan Gouws, kaptein en senter van Wessel Maree, het 'n driekuns aan drieë in sy span se sege behaal. Gouws was saam met Tsatsi Leteka (slot) en Stefan Deysel (skrumskakel) die wenspan se uitblinkers. Vir die verloorspan het Wayne Smith (flank) 'n alleenstryd gevoer.