Die nuwe Die Heuwels Fantasties album het nog nie ‘n ‘working title' nie, maar as ons dit nou iets moes noem, sou ons dit seker iets in die lyn van ‘Hallo Tannie' of ‘Wilder As Die Wildtuin' noem.
Toe ons dit nou weer in die kar geluister het klink dit vir my meer selfsugtig, meer kinderagtig, meer elektro en meer folk. Met ander woorde meer volwasse en gemaklik met onsself. Reg om jou ma te ontmoet by ‘n kroeg in die wildtuin.
Ons eerste album het meestal ons tienerbuurt se middagure verteenwoordig en ons wou met die tweede een aanvanklik die aand in die stad voorstel. Maar ek dink nie die Heuwels KAN te donker raak nie. Ons sien net nie die punt nie. Wat toe gebeur het is ons het net verder terug gegaan in ons nostalgie in. Konsepsueel probeer ons maar nogsteeds net vrede maak met onsself. Dit gaan definitief anders klink as die eerste album.
Die liedjieskryf-proses is heroorweeg. Johnny, as gevolg van groener finansiële weivelde, is nie meer so intensief betrokke by die skryfproses as voorheen nie, maar sal nogsteeds as hoofregisseur optree. Ons het ‘n nuwe jong genie/man in ons kreatiewe midde wat onder die vaandel van Fred Den Hartog die rekenaar behartig en ‘n man met ‘n rooi nek en ‘n grap vir ‘n gesig agter die tromstel (Philip Erasmus). Ons neem actually dromme op hierdie keer.
‘Doodgewone Aand‘ dink ek is ‘n goeie maatstaf vir die ‘harder‘ soniese landskap van hierdie album. Partykeer klink dit soos Coldplay gemeng met Massive Attack en partykeer klink dit soos Travelling Wilbury's gemeng met Coenie De Villiers. Dit gan anders klink as die eerste album, maar meestal klink dit maar soos ons, jy weet?"