Groen huise, groen winkelsentrums, groen munisipaliteite, groen energie en ‘n groen leefstyl! Groen is beslis in!
Groen swembaddens? - baie pa's sal bly wees oor die groen gier.
Groen tuine? - hier in die Oos-Kaap sukkel ons maar ‘n bietjie daarmee.
Dis waarom daar oral rondom ons huis dromme vol reënwater staan en my ma stort met ‘n emmer langs haar.
Natuurlik doen ons groen skoolprojekte, gaan op groen uitstappies en spuit ons hare groen vir die kankervereniging.
My broer begin glad groen drankies drink, dit lyk soos Cream Soda maar kan seker iets sterker ook wees, hoe sal ek nou weet? Hy noem dit ‘n "John Deer".
Bruide oorweeg deesdae ‘n groen troue met 'n groen polka-dot troukoek en groenbont blomme. Die strooimeisies word skoon groen van jaloesie!
Gelukkig kan ons sportspanne hulle groen en goud nog met trots dra want dit het darem so min of meer dieselfde gebly - dankie tog!
Daar is wel ‘n paar probleempies met die groen affêre. Ons TV se beeld begin die ander dag groen en pienk vertoon. "Dis die buis", sê die mense, maar ons kyk maar so want ons begin al aan die groen gewoond word.
Ek het so pas my leerlinglisensie gekry, nogal met die eerste probeerslag. Sal moet vasbyt met die bestuurslesse want in ons motorhuis staan ‘n ou groen motortjie wat ek gaan erf, maar as ek te lank vat gaan hy sekerlik in die motor-museum beland.
Die groen slaai kan dalk ‘n treffer wees hierdie jaar, veral as dit die vetjies help wegsmelt...solank my ma net nie besluit om van nou af groen karringmelkbeskuit te bak nie.