Lewensoriëntering is een van die beste vakke wat daar is.
Om die waarheid te sê: ek leef vir dae wat hierdie periode op my rooster is - teorie én prakties.
Dis nie asof fisiese wetenskap kinders van seksuele reaksies gaan leer nie.
Rekeningkunde sal ook nooit die trane afvee en maak asof geluk belangriker is as geld nie.
En die simbiotiese saamleef-verhouding van mikro-organismes, waarvan ons in lewenswetenskappe leer, is ietwat anders as dié tussen die mens.
Maar daar's één ding wat die besonderse en deeglike LO-handleiding nie heeltemal vir my kan uitlig nie; en dit is die liefdesverhouding.
Moontlik is dit té ingewikkeld vir hierdie vak. . .
Twee mense maak oogkontak en dan is daar die gevolglike spark. Die een verander dan in 'n dieretuin met skoenlappers in die maag en muise maak nes.
Partykeer (let wel, partykeer) is daar dan 'n vriendskap waarin die mense mekaar leer ken, want dis nie asof mense mekaar eerste leer ken en dán verlief raak nie.
In ieder geval: in hierdie ruspouse is hulle BFF's wat probleme deel, saam smul aan tjokkies en hopelik eerlik is met mekaar.
Die volgende stap is die daaropvolgende liefdesverhouding.
In dié tyd bring hulle elke oomblik saam deur. Hulle tree volwasse op en post nié hul liefdesboodskappies oor RSG of op Facebook nie.
Natuurlik hang hulle nie aan mekaar op die skoolterrein nie!
En, omdat jy nie na die bietjie LO-inligting geluister het nie (omdat jy volwasse opgetree het en jou geliefde se naam oral op jou lyf geskryf het), weet jy nie wat om te doen as die verhouding eindig nie.
Hierna hang daar 'n dosyn vraagtekens in die lug - selfs by diegene wat wel geluister het.
Dié twee mense, wat soveel moontlik tyd saam deurgebring het, práát eensklaps nie meer met mekaar nie.
Hulle vermy mekaar.
Hulle gaan na It's complicated en dan na single op Facebook.
En ná die dramatiese verbreking van die verhouding het die twee nie meer 'n goeie woord om vir mekaar te sê nie?
Al die teddiebere en roosblare beland in die herwinningsak of shredder - afhangend van hoe intens groen die jaloesie is.
Maar wat dit ironies maak, is die feit dat dit net 'n vriendskap, met liefde daarby, was. As vriende "opbreek", is dit nie eens amper so erg nie. Dis waarom ek dink die stilte ná die soene is alles skaam-gevoelens oor hoe verspot hulle eintlik was.
En hulle is meer ontsteld oor die fisieke wat hulle verloor het, as die vriendskap of liefdesverhouding wat verby is.
Onthou dit Desember wanneer julle twee soos grootmense optree en saam sandkastele bou. . .
Aldu Duminy is een van JIP se JJ's en is tans 'n leerder aan die Hoërskool Langenhoven in Riversdal.