Ek vermoed al geruime tyd dat dinge in ons land nie so erg is soos wat ons dink nie.
Dis nie dat ek blind is vir die moord en doodslag waarmee ons elke dag deur die koerante en die televisienuus gebombardeer word nie, dis net dat ek die afgelope paar jaar begin glo het daar is ander stories wat nie vertel word nie.
In my agterkop het ek geglo hierdie stories kon dalk bietjie meer lig in hierdie donker tonnel van ons skyn.
Tot nou toe was dit niks meer as 'n teorie nie, en sommige dae het ek self nie eens geweet of ek in hierdie teorie geglo nie, maar aangesien ek hierdie rubriek in 'n teepee in Umzumbe skryf, en tot hier gekom het deur my duim langs die N2 in die lug te hou, kan ek nou met oorgawe die Monkees aanhaal as hulle sing: " I'm a believer!"
Ek toer al die afgelope drie weke deur die land met niks meer nie as die goedgesindheid van mense langs die pad tot my beskikking.
Toe ek en my vriend Marc destyds besluit het om van Kaapstad tot Johannesburg via Durban te ryloop, het ons probeer uitwerk wat ons mees belangrike hulpbronne sou wees.
Albei van ons se finansies lyk maar bedroef, so geld sou nie 'n groot rol kon speel nie. Dit beteken natuurlik dat petrol en kos ook nie hoog op die agenda kon wees nie. Maar soos ek hier skryf, is my maag vol en het ek 'n duisend of wat kilometer agter die rug.
Sover het hierdie spontane, aanmekaargelapte eksperiment van ons soos 'n fyn uitgewerkte en goed geoefende avontuurfliek afgespeel. Ons kon nie vir 'n beter rolverdeling vra as die karakters wat tot dusver gestop het om ons op te pik nie.
Elke liewe mens waarmee ons paaie al gekruis het, het uit hul pad gegaan om ons te help. Mense gooi hul kar- en huisdeure vir ons oop asof hulle nog nooit die bloedbesmeerde hoofopskrifte in Suid-Afrikaanse koerante gelees het nie.
Die een patroon wat vir ons duidelik geword het, is die feit dat almal wat ons tot dusver gehelp het, nie toelaat dat vrees hulle lewe vir hulle versuur nie. Dis asof hulle almal eerder nou en dan hulle vingers sal brand, as om in 'n wêreld te lewe waar 'n mens nie ander mense kan vertrou nie.
Op grondvlak, of altans, die grond waarop my oor tans is, is daar niks fout met Suid-Afrikaners nie. Ons grootste natuurlike hulpbron is die mense om ons en dit wil vir my lyk dat 'n mensaangedrewe lewe, selfs al eindig dit in moord en doodslag, 'n beter lewe is as 'n lewe wat in vrees gelewe word.
Die afgelope drie weke het van my 'n dobbelaar gemaak.
Soos opportunistiese dobbelaars al hulle geld op "28 Rooi" sit, sit ek al my geld op die mensdom. Dit beteken nie dat ek nie die een of ander tyd my vingers gaan brand nie, dit beteken bloot dat ek uiteindelik weer blindelings in die mense om my glo. Dis mos hoe dit hoort.