Nadat ons verlede week in JIP ons saamgestelde rugby-ranglyste vir die Wes- en Suid-Kaap geplaas het, het ek 'n paar baie interessante reaksies van skole en ander lesers gekry.
'n Trotse pa wie se seun in 'n baie goeie o.14 A-span gespeel het, wou weet of ons nie ook 'n idee het waar dié tjokkers plaaslik en nasionaal "lê" nie.
Die reaksie wat die sterkste uitgestaan het, het die opstel van ranglyste bevraagteken - eerstens, omdat dit die verhouding tussen sommige skole kan versuur of met 'n klappie spanning kan bykom. En tweedens oor lof sommige skole toegeswaai word wat eintlik om geen ander rede meeding as om op ranglyste te kom nie.
Suid-Afrika se seunskole het hulle juis vier jaar gelede aan rankings onttrek en hulle net op liga- en vriendskaplike wedstryde begin toegespits.
Dit was onder meer hierdie beginselbesluit om deelname bo wen-tot-elke-prys te stel wat SuperSport genoop het om sy nasionale Top-20-ranglys weg te doen.
Van daardie skole is Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch, Paarl Boishaai en Grey Kollege van Bloemfontein. Al drie word as van die land se voorste "rugbyfabrieke" beskou en beskik oor uitstekende spanne van o.14- tot o.19 A-vlak.
Dit is daarom ironies dat Grey eerste, Paul Roos derde en Boishaai vyfde op die nasionale FNB-ranglys vir o.19 A-spanne lê.
Die waarde wat spelers uit rugby as 'n spansport kan put, word by die meeste skole - nie net die bestes nie - as die belangrikste doel met deelname beskou.
Vir gevestigde skole, wat jaarliks goeie spanne het, is 'n plek op enige ranglys dalk 'n kleinigheid. Sommige wedstryde is jaarlikse kragmetings, en die meeste skole het 'n amptelike derby, waarvolgens hulle doelwitte stel. En hulle meet die seisoen deels op grond van daardie uitslae. Dit geld ál hul spanne - tot die o.14 G-span.
Ander skole, wat net nou en dan 'n besonderse o.19 A-span het, heg straks meer waarde aan so 'n ranglys.
Die groot gevaar is dat skole moeite kan doen om 'n mededingende eerste span bymekaar te maak, maar hul rugby in die algemeen is prestasiegewys niks om oor te kraai nie. 'n Goeie posisie op 'n plaaslike en nasionale ranglys is immers goeie blootstelling vir die skool - in werklikheid strek daardie indruk nie noodwendig verder as die o.19 A-span nie.
Veral in 2000 en 2001 was die gebruik van "post-matrieks" 'n onding wat regoor die land kop uitgesteek het - toevallig in die tyd dat die ranglyste 'n baie algemene verskynsel was.
Ook dít het die seunskole tot hul uiteindelike onttrekking aangespoor.
Een van die Wes-Kaap se voorste o.19 A-spanne het in Maart vanjaar in een van die land se oudste rugbyweke gespeel. Toe hy met 7-87 teen 'n span van Pretoria vasval, is navraag gedoen en vasgestel dat dit nie naastenby die skool se sterkste span was nie - dié het toe in die Kaap gespeel.
Onder watter voorwendsels sal 'n skool so iets doen?
In die Wes-Kaap was die gesonde mededinging en die afwesigheid van 'n formele kompetisie (pleks van 'n vriendskaplike liga) nog altyd van die dinge wat die plaaslike ligas van die uiters vuriges in die noorde van die land onderskei het.
Theo Kleynhans, die hoofbestuurder van WP-jeugrugby, het hoeka onlangs gemaan teen 'n "wen-tot-elke-prys"-kultuur wat plek-plek kop uitsteek.
In Gauteng is bitter min skole nog lief vir mekaar. Mededinging het wyd en syd lelik geraak - in so 'n mate dat Affies van Pretoria hom aan die Beeld-trofee-toernooi onttrek het.
In die Wes-Kaap gaan dinge nog goed, maar indien skole nie die opvoedingsgesindheid wat tans hier heers, gaan volhou nie, is ook óns skolesport binnekort van sy mooi, sy onskuld en tradisies gestroop.