Seks.
Ja, al jou aandag is nou hier, nè (dit is mos waaroor tieners praat?).
Wel, jammer om jou teleur te stel, maar ek gaan nie skryf oor seks nie.
Ek gaan skryf oor ons generasie. So 'n paar weke gelede was daar 'n interessante artikel in JIP oor ons generasie.
Daar is baie name vir ons: Generasie Y, Generation Next, Echo Boomers. . . die lys gaan aan.
Skynbaar is ons 'n selfbewuste en materialistiese klomp. Inderdaad. Ons love ons bling. Selfone, iPods, rekenaars - hoe moderner hoe beter. En ons laaik dit om af te show (almal het foute, gun ons nou maar ons plesiertjies). En skynbaar is dit als die media se skuld.
Ons weet ook hoe om die lewe te geniet. Ons leef nie om te werk nie, maar ons werk om te leef. Generasie Y is ook nie bang om gesag te bevraagteken nie. Dit is 100%. Jy moet die man uitdaag en teen alle onregverdighede betoog.
Ons het ook 'n groot behoefte om by die groep in te pas. As die groep ons goedkeur, is ons in die wolke. Dis eintlik belaglik. 'n Mens hoef mos nie ander mense se goedkeuring te hê nie. Wees net jouself. Al is dit moeilik. Ons is skynbaar ook versot op liefdadigheidswerk. Ja, ons kan nie wag om op 'n Saterdagoggend 'n verskil by die sopkombuis te maak nie. Dis nou volgens die kenners.
Ek wil nou nie lelik wees nie, maar vir baie mense is die blote noem van die woord "liefdadigheid" taboe. Die enigste ander ding wat meer gevrees word, is skoolwerk.
Sommige doen dit dalk net om 'n groot geskenk vir (die deesdae gekommersialiseerde) Kersfees by Kersvader te kry! 'n Paar doen darem liefdadigheidswerk vir die liefde van die saak.
Op die ou eind kan mense óns generasie probeer klassifiseer soos hulle wil, maar hulle sal dit nooit heeltemal regkry nie.
Almal is anders.
'n Klomp stupid ou ooms in wit jasse kan ons tog nie definieer nie. Ons ís wie ons ís. Ek dink dis eintlik gebeure wat 'n generasie onderskei - veral in ons kleintyd. Dragonball Z, Pokémon, Digimon, Johnny Bravo is alles goed waarmee ons generasie kan vereenselwig. Maar daar's ook gebeure, soos dié van 9/11, wat 'n generasie vorm.
Die wêreld kort verandering. Daar is hongersnood en misdaad en selfmoord. Kom ons gaan maak 'n verskil. Y? Want iemand moet dit doen.
Christiaan du Plessis is een van JIPse JJ's. Hy is in gr. 12.