Into the Wild. Dis wat ek die vakansie gaan doen, die rowwe wildernis ervaar saam met 'n vriendin en 'n geselskap.
'n Trippie in Afrika.
Ons gaan die gerieflike rusbanke en harde skoolbanke van ons daaglikse bestaan agterlaat. Ek moet al vir 'n geruime tyd aan die malariapille suig en van al die agtergeblewe geliefdes en selfoonseine begin afskeid neem.
Die luuksheid van 'n warm bad en vollengte spieël vir oulaas waardeer.
"Shame, good luck with that," simpatiseer my vriendinne.
Noordwaarts op ons kontinent lê daar mos armoede en saam daarmee ongerief. Maar ek skud my kop vir hul wanpersepsie van "in Africa".
Ek het al anderkant die grens gaan kyk. Verlede jaar het ek die "rough" en "tough" belewenis saam met twaalf ander tieners ervaar. Ná 'n oordosis stof en Afrika taxi-geweld en vuil grensposte en pap wiele het ons die bestemming bereik. Ons het die harde Afrika-realiteit oopmond aangestaar.
Ek was behoorlik gewapen vir wat ook al kon gebeur. Ons almal was. Met muskietnette, gekonsentreerde sunblock en volgestopte noodhulptassies was ons gereed vir enige primitiewe of natuurlike gevare wat kon plaasvind. Prevention is better than treatment, en ons is gewaarsku oor die tekort aan Medi-Clinics.
En so opge-dress met al die nodige veiligheidsmaatreëls het ons die eerste aand langs die see gesit en gesels met 'n local visserman. Hy het vroeër die dag ons nader geroep en vriendelik versoek om hom te help om die vangs uit die see te trek.
Ná ons onkundige poging tot groot vermaak van die beroepsvissermanne, het ons hom vir 'n kultuur-inligtingsessie ingespan. Ons wou meer van hierdie rowwe terrein weet waar ons onsself bevind het.
Hy het laggend en met grofgewerkte swart hande in gebroke Portugese Engels verklaar: "I feel sorry for you man."
Hy het ons kopskuddend verder toegespreek. "You worry and hurry with your brick houses, electric fences and colour televisions. Every day I catch the fish, I eat the fish and I swim in this sea. In the night we have merry times. We are much much happy."
Die volgende dag is daar minder Peaceful Sleep aangesmeer. Ons het daaroor gaan dink: Prevention teen wat ?
Ek gaan die vakansie weer na die Afrika-land waar almal sonder gerieflike omstandighede smile. Miskien moet ons met al ons "voorregte" begin gelukkig wees. Hulle is.
Geluk in rowwe eenvoud en armoede, daar in the wild.