’n Toneel uit die fliek Agora. Rachel Weisz (regs) speel die rol van die geleerde filosoof Hypatia.
Agora
Drama
Met: Rachel Weisz
Regie: Alejandro Amenábar
Jy vind die hart van die saak in die treffende woorde van die filosoof Hypatia aan haar Christen-student: "Jy bevraagteken nie jou geloof nie - jy mag nie. Ek móét."
Die verhaal speel af in die vierde eeu in Alexandrië, met Christenskap wat al hoe meer volgelinge trek. In dié tyd is die stad steeds onder Romeinse bevel en beoefen die Paganiste ook nog hul gelowe.
Maar in die strate broei daar moeilikheid, gebore uit wedersydse onverdraagsaamheid.
In die Serapeum, 'n Romeinse tempel en ook suster-instelling van die bekende biblioteek van Alexandrië, is dit nie verlossing nie maar kennis wat nagestreef word, verbeeld deur die briljante Hypatia (Weisz).
In haar klasse word die natuurlike wette van die heelal bepeins, word daar gefokus op dit wat die mens verenig. Om haar hand wedywer die jong, welgestelde student Orestes openlik, terwyl die slaaf Davus stilweg maar intens hunker na sy meesteres. Soos die konflik in die stad op 'n spits gedryf word, sal albei mans 'n groot rol in Hypatia se lewe speel.
Weisz vaar uitstekend in dié hoofrol. Die wonder van kennis en ontdekking blink in haar oë, en 'n mens raak skoon meegevoer met haar studie van die kosmos en sy raaisels. Sy is 'n baken van regverdigheid en gelykheid te midde van vernietigende vooroordeel.
Daar sal seker diegene wees wat hulle vervies oor die uitbeelding van die Christene.
Wat sou die regisseur se bedoelings wees? Alejandro Amenábar het duidelik 'n passie daarvoor om die mens se gegewe of gewonne regte te ondersoek, soos ook te sien in sy bekroonde The Sea Inside.
Anders as wat hier gewys word, het die verwoesting van die Serapeum en Hypatia se dood nie saamgeval nie. Jy aanvaar dus die regisseur het dié verhaal-elemente saamgevoeg vir dramatiese effek. Tog, die rolprent word voorgehou as 'n fabel eerder as 'n historiese uitbeelding.
Ek dink nie dit was sy oogmerk om klippe te gooi nie. Hierdie is 'n waarskuwing oor die verwoestende gevolge van onverdraagsaamheid.
Vandag is dié boodskap steeds skreiend relevant. Want die mens het meer as 'n millennium later steeds nie geleer om te leef en laat leef nie.
Ouderdomsperk: 13GV (vooroordeel). Tydsduur: 124 minute.