Van drie dinge in die lewe is ek 100% seker.
Die Stormers sal nooit 'n Super14 wen nie.
Twee, dat as ek my oë toemaak wanneer ek bid, engele werklik verskyn, en niemand my verkeerd kan bewys hierop nie, want as my oë oopgaan, verdwyn hulle . . .
En drie, ek weet nie alles nie.
Genuine. Jy ook nie.
Maar seriously. Ek weet eintlik niks.
Ek weet steeds nie wat die T-opsie by die Universiteit Stellenbosch is nie.
Ek weet nie wat's fout met Kurt Darren se swaaiende heupe nie.
As ek terugdink aan my skooldae aan die Hoërskool Brackenfell (terloops, ek's nie só oud óf iemand wat jy ‘tannie' moet noem nie! Ek's 24. Jy's waarskynlik meer experienced in sekere dinge as ek) het ek nie veel meer geweet as wat ek nou weet nie.
Ek was nie soos enige ander hormoongedrewe tiener nie.
Het rook gehaat (nóú . . . ja . . .), was 'n mouth-virgin tot in matriek (nóú . . . err . . .) en het die ouens wat ek dik gesmaak het, se roosters in my kop gememoriseer sodat ek minstens drie keer per dag verby hulle kan loop op pad na my volgende klas.
Ek was, wat jy vandag sou noem, 'n egte stalker.
Nie die scary soort wat James Bond se deuntjie in my agterkop neurie wanneer ek iemand gewaar nie. Nee. Net 'n "goeie navorser".
Met navorsingsvermoë wat die polisie sal laat skrik. ('n Loopbaan in die polisie betaal te min, indien julle gewonder het hoekom ek nie daar is nie. Nie dat joernalis wees 'n helse verskil is nie. Ten minste skryf ek vandag oor cops.)
Maar op 'n dag het ek my lelik vasgeloop met die stalker-gewoontes.
Daardie tyd (ag nee, hou nou óp Carryn! Jy laat jouself nou net baie oud klink!) was selfone nog 'n nuwe ding.
Ek het op 'n manier afgekom op ‘Doed' se selfoonnommer. (Ek't julle gesê ek speel nie as ek sê ek was 'n top-agent nie). Doed was, soos dit gewoonlik in sulke verhale hoort, prefek, eerstespan-rugbyspeler, in die debatspan, CSV-kringleier, en ek . . . ek . . . was die dik girl wat bril dra en wat geweet het by wie en waar hy om 11:36 klas sal hê.
Met sy nommer soos 'n babaduifie in my arms, het ek gevoel die wêreld behoort aan my.
Ek het hom begin SMS. Binne 'n dag of ses was ons elke aand in kontak - hy natuurlik nie 'n cuh-lue met wie nie.
En toe bars die bom in my gesig toe hy eendag net terugstuur: "Hallo Carryn . . ."
Turns out, hy't by iemand wat iemand ken wat my geken het, my nommer op haar foon laat nagaan, en so is ek uitgevang.
En moes myself dwing om nie teen 11:36 aan hom en sy vernuftige debatteervermoë te dink nie.
Nou weet ek 'n vierde ding: Ek sou nooit 'n undercover-cop kon wees nie.