Toe ek 20 was en nog by die koerant op Oudtshoorn gewerk het, het een van my kollegas my gesmeek om saam met haar dogter matriekafskeid toe te gaan. Die dogter se kêrel het twee weke voor die groot aand hulle langafstandverhouding beëindig. Sy het advertensies by die koerant verkoop, so sy het 'n gladde bek gehad. Sy het my met haar uitsonderlike talent vir emosionele manipulering, omkopery en desperate gesmeek in 'n hoek vasgepen, en ek kon nie anders as om in te stem nie. Hoe erg kon dit nou wees, het ek gereken. Ek het haar dogter al so 'n paar keer by die werk gesien, soms gesels oor wat sy ná skool gaan doen en boonop was sy glad nie lelik nie.
Voor ek my kon kry was ek vasgevang in 'n web van skoolagtige angs, reëlings en verwagtinge soos toe ek gehoor het dat daar van my verwag word om die kar te reël. Ek het op pad huis toe by die eerste mooi kar wat ek gesien het in my buurt gestop en die ou oom, wat besig was om sy ou groen Jaguar te politoer, gevra of ek sy kar kan leen.. Hy het ingestem, maar op 'n kilogram biltong en 'n tenk petrol aangedring. 'n Opportunistiese pensionaris, hierdie oom.
'n Week nadat ek ja gesê het, het alles begin sneeubal. Dis al waaroor my kollega by die werk kon praat, sy het die heeltyd vir my koffie aangedra en het al vyf keer vir my middagete gekoop. Ek het ook laatnagoproepe oor die kar, die pak, en wie weet wat nog ook, ontvang. Alles het soos 'n gereëlde troue begin voel.
Die groot aand het aangebreek. My pak is gestryk, die aftershave brand my wange en met 'n lied in my hart ry ek met my volla na die girlkie se huis.
Toe sy die deur oopmaak, skrik ek groot. Sy het 'n mooi pers rok aan, hare is mooi, selfs oulike skoene aan, maar iewers is daar groot fout. Rondom haar regteroog is 'n pikswart patroon gegrimeer met 'n oogpotlood, of dit kon ook 'n swart merker gewees het, ek is nie seker nie. Uit hierdie digte swart kring rondom haar oog spruit 'n paar swart strepe. Sy lyk soos iets tussen The Crow, Two Face, 'n dronk Kahn van The Parlotones, hoofsanger van KISS of selfs Alice Cooper. Dit lyk of sy reguit in 'n dieseltrok se uitlaatpyp gekyk het terwyl die drywer die trok rev.
Ek lieg, "Wow you look... stunning! Funky make-up!" Sy lyk opgewonde, maar haar ma is totaal uit haar vel uit. Sy is ook sommer mooi aangetrek en die parfuum hang swaar in die lug. "The make-up is not too over the top? What do you think? We went for something different so that she will stand out from the rest," verduidelik haar ma opgewonde. My moed sak in my blink skoene. Ek kan nie ophou staar na die oog nie. Met tye raak die girlkie selfbewus. Ek asem diep in en sit my vriendelike metgeselmasker op.
Saam met die pensionaris en sy groen Jaguar daag 'n familievriend op. Hy het 'n weggooikamera. Na 'n amateuragtige fotosessie spring ons in die Jaguar. Die tannie se arms dril soos sy in die straat vir ons waai. In die Jaguar se tru-spieël sien ek hoe lag die pensionaris vir my.
Meisies, asb as een van julle 'n vreemde outjie gevra het om saam met jou matriekafskeid toe te gaan, moenie die grootste aand van jou hoërskoolloopbaan kies om "weird" te lyk nie. Daar gaan nog baie kostuumpartytjies wees waar jy jou kan uitleef.
Foto's is vir ewig en jou metgesel se geheue ook.
- Vertel jou snaakse, fun of traumatiese matriekafskeidstorie hier onder in die kommentaarveld.