Flinke Angelina red aksieriller in ’n mate

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Is sy of is sy nie? Die vraag oor of die karakter Evelyn Salt ’n Russiese spioen is, hang soos ’n swaard oor haar kop.

Salt
Aksieriller


Met: Angelina Jolie, Liev Schreiber,
Chiwetel Ejiofor.


Regie: Phillip Noyce


Gaan verberg ge­loof­waar­dig­heid en knippies logika in die diepste katakombes wat jy kan vind, en jy sal Salt geniet.

Dis net jammer Hollywood bly dink vandag se gesofistikeerde fliekganger is oningelig en het die verwysingsraamwerk van 'n stokinsek. In-die-voet-skietery vier hoogty. Dat 'n gesiene regisseur soos Phillip Noyce dit nou nie kon insien nie ...

Die plakkaat met Angelina Jolie sal alles vir Salt doen, die miljoene laat inrol en jong vroue die kans gee om hul rolmodel se nuutste voorkoms te bespreek en te beskinder terwyl hulle twee-twee hul neus gaan poeier. Almal wat ná 'n skrikwekkende getal dieetpogings met misnoeë na Angelina se uurglaslyfie kyk, sal aanneem sy het 'n ernstige siekte onder lede.

Dis 2011 en die Koue Oorlog is skynbaar nog nie verby nie. Evelyn Salt (Jolie) is 'n CIA-agent wat haar eed - om Amerika te dien en te eer - ernstig opneem. Die fliek is skaars aan die gang en haar lojaliteit word deeglik beproef: Orlof, 'n Russiese verraaier, beweer Evelyn is eintlik 'n Russiese spioen. Pandemonium.

Dié aantyging gee Evelyn ekstra stukrag om die teendeel te bly bewys. Soos 'n wafferse gimnas spring sy van een voertuig op 'n ander op 'n besige snelweg. Sy hanteer handgranate met die gemak van 'n sirkusarties wat sy ­keëls in die lug hou en slaan boewe plat wat drie keer swaarder as sy is.

Sy ís patrioties en baie lief vir haar Duitse man wat haar lewe gered het, maar sy het ook 'n vreemde stokperdjie en tegelyk 'n navorsingsprojek: die versamel van spinnekoppe.

Maar kan dit moontlik wees dat sy tog skuld dra en dit die rede is dat niemand haar ten volle wil vertrou nie?
Uiteindelik swig die draaiboekskrywer en Noyce self voor die enorme eise rondom karakteruitbouing of dan die vrae rondom moraliteit in dié aksieriller. Hulle verlaat hulself teen wil en dank op tempo-handhawing by die aksie­tonele. Hulle bly die kyker soms spasties rondskud, terwyl daar perkeloos geleen word by vorige voorbeelde uit dié genre.

Daar is teen die einde 'n kinkel wat 'n mate van verligting bring, maar ook vrae rondom 'n oop einde wat 'n vervolg sou kon impliseer. Dalk meer sout in die wonde? Glo my, Salt se drie sterre is hoofsaaklik te danke aan Jolie se insette. Liev Schreiber kwyt hom deeglik van sy taak, maar helaas is Chiwetel Ejiofor se rol ietwat te gelykmatig om werklik te boei.

Ouderdomsperk:16G. Tydsduur:100 minute.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar