Flieks om nog na uit te sien in 2010

  • 0
    like dit
  • 0
    like dit nie
Die plakkaat van Inception lyk belowend.

Tussendeur die duisternis opvolgprente (kan ons regtig nóg 'n Shrek-fliek verteer?) en die talle tienerflieks met hul twyfelagtige humor, wink daar darem 'n paar groot kanonne waarop fliekgeesdriftiges gerus kan let in die volgende ses maande.
Dit sluit in:


INCEPTION : 30 JULIE
Leonardo DiCaprio vertolk die hoofrol in hierdie wetenskapfiksiefliek. Die verhaal speel af in die wêreld van drome, met Di-
Caprio in die rol as agent Cobb, wat die unieke talent het om in mense se drome in te glip en geheime - veral korporatiewe geheime - te steel.
Toegegee, dit klink bietjie dik vir 'n daalder, maar die rolverdeling sluit in groot name soos Ken Watanabe, Ellen Page, Marion Cotillard en Michael Caine. Met sulke swaargewigte klink dit vir ons baie belowend.
Hoekom moet jy dit kyk?
Die regisseur is Christopher Nolan. Dit is die man wat uitstekende films soos Memento, Batman Begins en The Dark Knight geskep het. Meer hoef 'n mens nie te sê nie.


THE A-TEAM : 20 AUGUSTUS
Ja, ons is ook mal daaroor wanneer 'n plan reg uitwerk! Die A-Team maak sy debuut op die silwerdoek. Die fliek spog met 'n nuwe storielyn en is blykbaar propvol aksie. In die rol van Hannibal Smith is Liam Neeson, wat lyk asof hy gebore is met daardie sigaar in sy mond ...
Redes om te kyk?
Suid-Afrika se eie Wikus van der Merwe van District 9, of dan nou Sharlto Copley, vertolk die rol van die malle "Howling Mad" Murdock. Voorts lyk dit na 'n vermaaklike, goeie ou blaas-alles-op-aksiefliek.


SALT: 3 SEPTEMBER
Daar is nie veel bekend oor die verhaallyn van dié fliek nie, want die regisseur, Phillip
Noyce, hou sy kaarte naby. Wat wel bekend is, is dat die bekroonde Angelina Jolie die hoofrol vertolk as die CIA-agent Evelyn Salt, wat vir haar lewe moet vlug en veg wanneer sy daarvan verdink word dat sy 'n Russiese spioen is.
Redes om te kyk:
Jolie het al bewys sy kan enige rol hanteer wat na haar kant toe kom. Sy gaan seer sekerlik die Amerikaanse agente laat les opsê in dié aksie-riller. Wat dinge verder interessant maak, is dat dit geensins duidelik is of haar karakter goed of sleg is nie: Die kyker gaan raai tot aan die einde.


WALL STREET: MONEY NEVER SLEEPS : 24 SEPTEMBER
In 1987 het die akteur Michael Douglas die rol van 'n leeftyd gehad - as die genadelose, gierige Gordon Gekko in die treffer Wall Street. Dié karakter is nou ná jare uit die tronk. Hy is vervreem van sy dogter, Winnie, en geen van sy vorige kollegas wil hom eens sien nie. Sy paaie kruis met dié van Winnie se ambisieuse kêrel, Jacob (Shia LaBeouf), wat 'n doelwit van sy eie het.
Hoekom dit gaan sien?
Die regisseur Oliver Stone het dekades gewag om 'n opvolg van sy eerste treffer te maak en 'n uitstekende span akteurs bymekaar gekry - Douglas, LaBeouf, Carey Mulligan (An Education). Dis genoeg motivering vir ons.


EAT, PRAY, LOVE : 8 OKTOBER
Die oomblik nadat sy dié gewilde blitsverkoper deur Elizabeth Gilbert klaar gelees het, het die aktrise Julia Roberts die foon gegryp en haar agent gebel met die opdrag om die rolprentregte van die verhaal te bekom.
Sy vertolk dan ook die hoofrol van Elizabeth, 'n geskeide vrou wat 'n jaar afvat om drie lande te besoek (Italië, Indië, Bali) in 'n poging om uit te vind wat sy met haar lewe wil doen.
Redes om te kyk?
Roberts bring altyd iets spesiaal na die skerm. As die fliek enige van die vriendelike sjarme van die boek bevat, behoort dit vir 'n baie genotlike kykervaring te sorg.


SPUD : 26 NOVEMBER
Die skrywer John van de Ruit se geliefde karakter Spud Milton gaan uiteindelik op die silwerdoek te sien wees. Die legendariese John Cleese gaan te sien wees in die rol van Spud se eksentrieke onderwyser en mentor, The Guv. Dit kan net goeie dinge beteken.
Hoekom dit kyk?
As die draaiboek slegs een tiende so snaaks is soos die boeke self, gaan die prent beslis 'n baie prettige ervaring wees.
Die eerste lokprent is pas uit, kyk uit daarvoor.


HARRY POTTER 7
(DEEL 1): 3 DESEMBER
Die filmweergawe van die laaste Harry Potter-verhaal is opgedeel in twee flieks omdat daar so baie gebeur. In die eerste helfte word gewys hoe Harry en sy getroue vriende, Ron en Hermione, die pad vat in hul soektog om Voldemort te oorwin. Daar is heelwat nuwe gesigte in die groot rolverdeling: Bill Nighy gaan te sien wees as die minister, Rufus Scrimgeour, en kyk uit na Rhys Ifans (Notting Hill se histeriese Spike) as Xenophilus Lovegood.
Hoekom moet jy dit kyk?
Wel, as jy tot hier gelees het, is jy tog sekerlik 'n Harry Potter-aanhanger? In daardie geval sal niks wat ons sou sê in elk geval 'n invloed kon hê nie, maar die eerste amptelike lokprent op You-Tube lyk baie belowend.


 

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar