Dit verstom my hoe 'n groot rol Facebook éintlik in my lewe speel.
Ek sal soms in die aande wakker word, wakker lê soos een wat gefunnel het met koffie, en dan is dit byna onmoontlik vir my om weer aan die slaap te raak sonder ‘n hulpmiddel. Voorheen sou ek sulke tye die lig aangeskakel het en iets gelees om weer aan die slaap te raak. Deesdae tel ek net my foon op en gaan op Facebook, lees almal se status updates, lag vir die floues, (wat gewoonlik 80% daarvan is), draai om, en slaap verder.
Ek lag nogal baie vir mense se updates. Ek kan dit net nie help nie. As jy gaan aankondig hoe dronk jy die vorige aand was, jou ou/meisie ‘n verskeidenheid van kotswaardige troetelname noem, of baie slegte spelvermoëns het, gaan ek lag.
Wat ek seker die meeste doen op Facebook is om na mense se profiele te kyk. Ek is ‘n selferkende, skaamtelose Facebook stalker. Dit is die lekkerste om iemand se inligting deur te kyk nadat jy hulle ontmoet het, veral as dit iemand is wat jy in die oog het. Die persoon se musieksmaak, en wat hulle onder die ‘About me' op hulle profiele tik is vir my die belangrikste. As ek een sokkie-bokkie-hierdie-musiekkunstenaar-skryf-net-paarrym-lirieke se naam onder ‘Music' sien, is dit verby.
My hande het verlede jaar begin sweet toe daar sprake was van ‘n manier hoe mens kan uitvind wie na jou profiel kyk. Ek het baie senuweeagtig vir almal by Kollege gevra of dit moontlik is, en was baie dankbaar om te hoor dat dit net ‘n foefie was. Ek weet nie hoe ek aan die ou van wie ek op daardie stadium gehou het sou kon verduidelik wat ek op sy profiel gemaak het nie. "Um, ek het oor my hond geval, toe val ek op die rekenaar se sleutelbord en druk ‘n knoppie wat my direk na jou profile geneem het. O ja, en dit het baie keer gebeur, dis hoekom ek so baie op jou profiel was."
Facebook maak mens ook baie gretig vir aandag. Mens laai foto's op, verander jou profielkiekie en tik status updates, alles in die hoop dat iemand dit sal ‘like'. Ek het onlangs op iemand se status gelees: If Facebook shuts down today, would you run around the streets shoving pictures in people's faces shouting: DO YOU LIKE THIS????
Dit maak my net soms bang hoe vasgevang mens daarin kan raak. Ek sal soms my take opsy stoot net om foto's op Facebook te laai, en ek kan nie vir langer as ‘n dag sonder dit gaan nie.
My ma sê altyd: "Te veel van ‘n goeie ding is ook nie goed nie." (Ek's seker jy't nou jou eie Ma se stem gehoor!) Mens moet net leer om Facebook nie te misbruik nie. Hoor julle, my Facebook vriende? Ek wil nie hoor wat jy elke 10 minute doen nie, ek stel nie belang daarin om tE hOoR hOe GrAaG jY mEt JoU liEfiEdiEfieSmIeFie wiL cUdDle iN diE rEëNweEr nie, en ek wil jou ook nie help om Farmville te speel nie.
Facebook, nes meeste dinge, moet matig en wys gebruik word. Soos my ouma eenkeer vir my gesê het: "Matigheid voor oȅ, né?" Dieselfde Ouma het ook vir my die rympie van Fuzzy Wuzzy geleer. Wag ‘n bietjie, dit sal ‘n perfekte status update maak...