"Ek leef, al het ek die sneller getrek"

  • 37
    like dit
  • 3
    like dit nie
Een van die tatoeëermerke wat Dadine gekry het nadat sy selfmoord probeer pleeg het. Foto: Liza van Deventer

Selfmoord is ’n realiteit, al is dit moeilik om te face. Dit is Tienerselfmoord-voorkomingsweek en Celinda Groenewald het met ’n survivor gesels.

Drie dae voor haar matriek-eindeksamen het Dadine Joubert (nou 21) haar pa se .45-kaliber-pistool teen haar kop gedruk en die stemme wat haar aanmoedig om die sneller te trek, probeer uitdoof.
"Dit was asof ek in 'n ander dimensie was..."

Op die laaste oomblik het sy die pistool na die linkerkant van haar lyf laat sak, waar sy geskat het haar hart sit, en 'n skoot het die stilte van haar ouerhuis oopgekloof.
"Ek het na my boetie se meisie geroep wat buite die huis was. Sy het met handdoeke die bloed probeer stop. Ek weet die pyn was onbeskryflik, maar dis vreemd dat 'n mens nooit later die pyn kan onthou nie."

Vandag is dit baie moeilik om te glo dié funky BCom-student met die sielvolle oë het selfmoord oorweeg.
"Soms voel dit of ek 'n dubbele lewe gelei het. Ek was omring deur liefde en ondersteuning, maar was 'n regte rebel wat my ouers so kwaad kon maak met rook en drank."

Dadine sê genetiese depressie is vroeg op hoërskool by haar gediagnoseer, maar nie eens haar beste vriende het van die werklike donkerte binne haar geweet nie.
"Ek was so in myself gekeer dat ek nooit regtig dáár was nie, al het ek gedink kuier is die oplossing."
Vir haar het 'n naweek se high op kuier haar net weer laat crash die volgende oggend.
"Drank meng nie lekker met antidepressante nie."

‘Dankie dat ek hier is'
"Daar was nie genoeg wit in my lewe om die swart in te kleur nie. Wat jy van jouself dink, kan jou maak of breek."
Die eerste keer wat sy probeer selfmoord pleeg het, het sy 'n handvol pille gesluk.
Die tweede keer, toe sy dit amper reggekry het, het sy op haar bed gelê en besluit sy sien nie meer kans om 'n teleurstelling vir haarself en ander te wees nie.
"Gelukkig het ek nie biologie of fisiologie gehad en geweet waar sit my hart nie," spot sy.
"Die skoot het enkele sentimeters van my linkerlong en millimeters van my slagaar deur my bladbeen getrek."

Die litteken is ná sowat drie jaar nog duidelik sigbaar.
"In die kar op pad hospitaal toe het my boetie bly sê: Dientjies, bly by my."
In die hospitaal het sy om vergifnis gebid en belowe sy sal nooit weer so iets doen nie.
"Dit was 'n impulsiewe, selfsugtige besluit wat my hele gesin beïnvloed het."
Sedertdien moes sy 'n paar operasies ondergaan, maar die dokters bestempel haar herstel as wonderbaarlik.

Dís my besluit
"Ek het oor die jare soveel great mense ontmoet en besef daar moet 'n doel wees met my lewe. Ek sê elke dag dankie dat ek nog hier is."
Sy gebruik steeds antidepressante en sê die lewe word nie oornag maanskyn en rosegeur nie.
"Ek het lank gesukkel om myself te aanvaar."
Dadine sê praat is die beste raad.
"Jy móét met iemand praat, al is dit 'n vreemdeling. 'n Mens kan nie al die goed opkrop sodat dit 'n dieper gat word waaruit jy verkeerde besluite neem nie."
Sy speel kitaar, sing en skryf al liedjies vandat sy 12 jaar oud was.
"Ek het met papier gepraat toe ek met mense moes praat.
"Ek het 'n belofte aan myself gemaak en al is dit 'n konstante struggle, kies ek om nié daai donker lewe te hê nie.
"As jy in die aand in jou bed lê, wanneer jy werklik alleen met jouself is, weet jy of jy gelukkig is.
"Besluit om te wees."


Die lewe in ink
Dadine het 'n paar tatoeërmerke en dis nie omdat sy rebels is nie, maar om haar herinner om die lewe te vier.
Op haar regterarm staan Decide to decide: "As jy goed het wat jy wil doen, doen dit nou."
Op haar linkerarm staan 22.11.08 New life.Dit is die datum waarop sy haar eie lewe probeer neem het:"Jy haal nou asem, kyk na jouself."
Op haar linkerpols is 'n ster: "Ek het myself gesny om uiting aan my emosies te gee. Dit herinner my ek sal dit nooit weer doen nie."
Op haar hals is musieknote: "Musiek is my groot passie. Dis 'n wonderlike taal, al verstaan nie almal die woorde nie."


 



Klop hier aan vir hulp
Praat met jou ouers, 'n onderwyser wat jy kan vertrou of een van jou vriende.
Jy kan ook dié nommers bel:
Childline 0800 055 555
Lifeline 086 132 2322
SA depressie-en-angsgroep 0800 567 567 of stuur 'n SMS na 31393.


Wat sê 'n kenner?
Tienerselfmoord word by die dag meer algemeen in Suid-Afrika, sê Cassey Chambers, opera­sionele direkteur van die Suid-Afrikaanse depressie-en-angsgroep (Sadag).
"Daar is baie tieners wat oorweldig voel," sê sy.
Deel van die probleem is dat niemand 'n woord oor die onderwerp wil rep nie. "Ons leer ons kinders big boys don't cry."
In vergelyking met Amerika en Brittanje is Suid-Afrika se voorkoms van tienerselfmoord veel hoër, sê sy.
Maar waarom? Volgens Chambers is daar, behalwe depressie en soortgelyke siektes, baie bydraende faktore wat tot selfmoord kan lei, waaronder boelies, skooldruk, die hoë syfer van egskeidings en huishoudelike geweld in Suid-Afrika, asook drank- en dwelmmisbruik.
"Suid-Afrikaanse tieners word blootgestel aan ekstra druk en word nie geleer hoe om dit te hanteer nie."
Vir tieners is selfmoord meestal 'n besluit wat op die ingewing van die oomblik gemaak word. Daar is nie genoeg hulpbronne om tieners te help nie, maan Chambers.
"Mense moet opgevoed word oor die tekens waarvoor hulle moet uitkyk en hoe hulle tieners kan help wat selfmoord wil pleeg."
- Rozanne Els


 


Gevaartekens
As jy bang is iemand wat jy ken oorweeg selfmoord, kan jy op die uitkyk wees vir dié tekens.
Die persoon:



  • huil baie;

  • geniet nie meer dinge waarvan hy of sy gehou het nie;

  • bring baie tyd alleen deur;

  • eet te veel of te min;

  • slaap te veel of te min;

  • is sonder energie;

  • mis gereeld skool;

  • vind dit moeilik om besluite te neem;

  • sukkel om te konsentreer; en

  • voel hopeloos.


 

Gebruikers Kommentaar (48)

  • Irene
    1 month ago
    Wil aan almal sterkte toewens, sonder Jesus Christus is ons lewens
    baie donker, maar sodra die lig in ons lewe kom kan on smet ander oe na
    die lewe kyk.
    Wil vir desperate ma van 7 dae met 16 jarige dogter vra om my te skakel, ek het iemand wat haar kan help. Sy kan my skakel by 0836310655
  • xxx
    2 months ago
    Mense is so vinnig om te oordeel, mens begryp nie altyd n ander se pyn nie, ek self het 4 keer probeer selfmoord pleeg was by drie verskillende sielkundiges niemand kon my help nie, almal het moed op gegee en net gewag vir die nuus dat hy dit reg gekry het, nou 4 jaar later na my laaste probeer slag is ek nie op enige anti-depressante nie ek het weer lus vir die lewe ek wil lewe, my littekens sal altyd daar wees elke dag word ek herhinder daar aan, mense om my sien my littekens en soms sien ek die skrik in hulle oe as hulle besef wat die littekens eintlik is, sommige mense vermy jou as gevolg van dit party mense vermy jou, en ek glimlag net by myself en dink ek het die oorlog teen depressie gewen ..., dit wat jy sien is net die merke wat my hartseer gelos het die wonde is nou heel .... Ek is nou weer heel, nou kan ek weer die volgende stap vat.

  • 2 months ago
    Ek het absolute de Javu ervaar toe ek die lees. Ek was ook een van daardie tieners wat op 'n emosionele roller coaster was. Ek en my ma het die slegste verhouding gehad en het ELKE liewe dag op mekaar geskree en geskel. Na een so skreeusessie het sy uitgestorm - op pad terug werk toe - het ek twee hande vol pille (ek kan nie eens onthou wat dit was wat ek in my keel afforseer het nie) gedrink - dit was asof iemand my met 'n hamer in my maag geslaan het. Ek het onmiddellik besef dat dit amptelik die domste ding in die lewe was wat ek al ooit gedoen het - en glo my ek het 'n hele paar dwaas dinge aangevang - ek het God gesmeek om vergifnis en gevra dat Hy my lewe sou spaar - toe ek my oë oopmaak het my ma voor my gestaan - sy het iets by die huis vergeet. Ek glo met my hele hart God het my lewe daardie dag gespaar en sal Hom ewig dankbaar wees want die lewe is altyd meer werd as die dood. Elke dag is en bly 'n geskenk uit sy hand - en al lyk vandag hoe donker - net miskien is more die dag dat die son vir jou sal skyn. Moet nooit opgee nie. Vandag het ek en my ma'n amazing verhouding, ek het my droom werk en ek is liewer vir die Here as ooit.
  • Lynn
    2 months ago
    My ma was 'n paar jaar gelede ook in 'n swart put van depressie en wat haar daaruit gekry het is net God en Sy Woord. Dit het nie oornag gebeur nie, maar sy het na preke en praise en worship musiek geluister. Hoe meer Woord sy in haar gekry het en hoe meer sy gepraise en worship het (al voel jy nie lus nie), hoe meer het die depressie sy krag verloor. Net God kan daardie swart gat(leemte) van depressie vul. Roep Hom aan. Sterkte, ek bid vir julle almal.
  • Elizabeth
    2 months ago
    Na die onlangse selfmoord van die akteur besef mens weereens hoevele mense geraak word deur depressie. My 16-jarige seun het in 2000 sy lewe geneem; 'n briljante slim kind wat op sportveld ook presteer het. Ons as ouers het maar nog nooit oor dit gekom en voel ons het erens gefaal. En tog is ons 'n gewone gelukkige gesin wat eintlik alles saam gedoen het - maar mens bly voel jy is op 'n manier skuldig. Niemand is te goed/te sleg/te ryk/te arm om hierdie "swart hond" vry te spring nie - dit kan met enigeen gebeur. Is daar REGTIG 'n oplossing? Sekere medisyne help vir sommige mense, praat help baie keer maar soms is daar 'n oomblik wat die heelal gaan stilstaan en so persoon net nie verder KAN nie. Sterkte en liefde aan almal wat hieraan ly.
Bladsy 1 van 10
<< Vorige | Volgende >>
Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar