Die Guv, 'n eksentrieke karakter uit die boek Spud, was dalk 'n bietjie onder die invloed toe hy die volgende ondeurdagte uitlating aan sy gr. 8-klas gemaak het: "As dit nie vir seks was nie, sou geen boek op hierdie aarde geskryf gewees het nie."
Oordrewe? Miskien. Sekere heiliges sal dié absurde uitlating as bog afmaak.
Ek dink daar steek egter 'n groot waarheid in die onkonvensionele onderwyser se woorde. Dink bietjie.
Seks, of dalk seksuele aantrekkingskrag, is diep gewortel in die lewe, kuns en selfs geloof. Hoe kan 'n mens as tiener hierdie magnetiese aantrekkingskrag verstaan?
Ek het gedink om dié gedrag met diere te vergelyk - nie om ons te reduseer tot 'n primitiewe vlak nie, maar om seksuele aantrekkingskrag in sy eenvoudigste vorm te probeer ontleed.
Diere kies 'n maat op grond van 'n paar goed. Een is visuele seine. By mense is dit nou hoe simmetries die meisie of ou se neus in verhouding tot haar of sy ore is. Al die voor die hand liggende fisieke tekens wat jou maag laat vlinders kry. Dankie tog, vir die meeste van ons gaan aantrekking nie net oor die visuele nie.
In die diereryk maak hulle ook staat op klankseine. Dit is nou die leeu wat die hardste kan brul, ensovoorts. By die mens speel stem ook 'n groot faktor, asook die manier hoe mense praat. Meisies met 'n Engelse aksent laat my byvoorbeeld vermurwe.
Motte maak gebruik van reukseine of feromone om lede van die teenoorgestelde geslag aan te trek. Dit klink dalk simpel. Om sleg te ruik, kan egter 'n groot turn-off wees en lekker deodorant of parfuum laat 'n mens soos 'n magneet word - check net die Axe-advertensies uit.
In die natuur speel fisieke bewegings 'n groot rol om goeie gene aan te dui. Dieselfde geld mense, want die manier hoe jy beweeg, kan die teenoorgestelde geslag se knieë laat lam word. Of nie.
Laaste maar nie die minste nie, het ek persoonlikheid bygevoeg. Dit is ongekend in die diereryk, maar ons is hoër wesens en daarom is persoonlikheid ook 'n faktor.
Mense lag altyd as 'n ou sê: "Ten minste het sy 'n goeie persoonlikheid." Wel, dit maak 'n verskil. Ek kan byvoorbeeld nie oppervlakkige poppies verdra nie, terwyl ander ouens oor hulle kwyl. Al dié faktore bepaal iemand se sex-appeal. Romeo sou immers nie van Juliet gehou het as daar nie 'n magnetiese aantrekkingskrag tussen hulle was nie.
Gelukkig verskil smaak - "beauty is in the eye of the beholder". Moet dus nie te veel stres oor als nie. Hou net by die basics. Christiaan is 'n JJ. Hy is in gr.11 by die Hoërskool Swartland in Malmesbury