Ek is veel meer as net my hare

  • 3
    like dit
  • 0
    like dit nie

Die winter koekeloer. Die dae begin draai en ek stres al klaar. Winter beteken slegte weer. En slegte weer beteken slegte ­hare.

Ek het eenkeer iewers gelees dat die mens meer as 'n miljoen hare op sy kop het. Ek beskou my haredos as meer geseënd as die nederige miljoen. Ek het hare wat nie ophou gesig wys wanneer ek dit kam nie. En ek het boonop, uhm . . . regte "bruin"-hare.

Hare wat met gebed en geduld reguit word. Hare wat hande opgelê moet word om net-asseblief-in-toom-te-bly.
Laat ek julle vertel van "coloured" hare. Dis 'n spesie op sy eie. Ja, ek sou die potloodtoets met flying colours gedop het.
Hel, ek het selfs al 'n arme ou die skrik op die lyf gejaag toe hy een keer liefkosend sy vingers deur my hare wou streel en ek "eina, eina" begin skrou het.

'n Vrou se hare, het ek toe geleer, is déél van haar beeld.
Dit gee geheime weg aan die wêreld van hoe jy jou kroon versorg en oppas.

Wat maak 'n mens met dié "coloured " hare? Jy swirl dit, my kind, vertel Moeks. My hare het al 'n swirl-kous gesien. 'n Swirl-kous is 'n gewone sykous wat na sy aftrede gebruik word om jou hare snags te tem. Vir elke vrou met hare soos myne is dit 'n moet. En nee, jy leen dit nie uit nie. Nadat jy jou hare ge-blow het, moet jy jou hare vat en draai - verkieslik kloksgewys - terwyl 'n tweede mens met sterk hande byderhand staan en die kous oor jou kop draai. Geen GHD op aarde sal jou ­hare so laat blink soos hierdie stukkie tegnologie nie.

Pas net op. Daai merk gáán môreoggend op jou voorkop verskyn en dan gaan almal by die skool en werk weet waarmee jy gisteraand besig was.

Om dié rede is die swirl-kous en ek nie meer vriende nie. Maar sy was in die algemeen nog net goed vir my.

Die tweede ding wat jy van "coloured" hare moet weet: Nat mag dit nie raak nie. Reën mag dit nie sien nie. Hier praat ons nie eens van mis nie.

Derdens: 'n Doekie sal jy altyd naderhand moet hê ingeval die mis of die reën besluit om te verskyn.

Vierdens: Ek probeer maar alle foto's geneem kry so 'n uur na my aankoms.

Laastens: Moet nooit, maar nóóit, vir iemand sê haar hare het ge-mince nie. Dis net disrespekvol. Ons weet dit goed genoeg.

Vroue is maar net so oor hare. Dis deel van ons voorkoms, en die media herinner ons in advertensies aan blink, gladde hare. Dit móét reguit wees, dit moet wapper in die wind en ek moet die slierte teen my wange voel. Maar toe kom sing India Arie: "I am not my hair. I am a soul that lives within."

Ek het so twee jaar gelede besluit ek gee nie meer om oor my krullebol nie. En het my hare laat groei (en elke keer geknip met 'n break-up - julle weet hoe dit gaan).

Maar ek het nou opnuut besef my hare is net 'n klein deel van myself. En dank Vader my krag lê nié in my hare nie, maar in dit wat onder my dos versteek is.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar