Ek moes seker al besef het Kersfees is om die draai.
Soli Philander wat Krismis-pies op die tee-wie verkoop. Boney M se "Feliz Navidad" wat die naweek in Edgars gespeel het. My ma wat hoog en laag glo daar moet nuwe gordyne gekoop word.
Nee, selfs met al hierdie bewyse het ek my kop in 'n ander rigting gedraai.
Dit was eers toe ek gisteraand verby die bure ry en die liggies sien brand, dat ek besef het Kersfees is op ons, pappa!
Nou weet ek waarnatoe jou kop dwaal as dit by die Kerstyd kom.
Jy dink aan jou linkerboud se kuiltjie wat sy spiere bult en jou nie in daai bikini gaan toelaat nie. Jy dink aan die jaar wat was, en hoe jy nie by jou Nuwejaarsvoorneme gehou het om 2010 simpler, better, faster and thinner te leef nie.
Ek voel élke dag van my lewe skuldig oor dikwees, maar nié wanneer dit Kerstyd is nie. Ja, oukei, terwyl 'n perfekte somerlyf seker nie skade sal doen nie, sal ek eerder stres oor wat ek vir Moeks vir Kersfees moet koop of waar ek Oujaarsaand my glasie gaan klink.
Teen Kerstyd "moes" jy al lankal jou perfekte somerlyf gehad het, so waarom nou begin bodder? As jy jouself nou gaan dwing om 'n groenslaai te eet, gaan jy teen die winter maer wees en what's the point, my dear?
Ek sê nie ons moet onsself oor 'n mik in eet aan BP-pies en roomys nie, maar ek dink net ons moenie onsself nou op 'n knop kry oor wat om te doen om maer te word nie.
Die feit dat 'n krieketspeler anyway onlangs dieetpille moes drink, het my in elk geval laat besef dat gewig ons álmal raak.
Selfs Eva Longoria is al gekiek waar sy uit 'n kar uitklim met 'n visible squeezie om haar boude.
Ál wat dik wees van jouself aan die wêreld sê, is: "Hei, ek hou van eet! Ek hou daarvan om my bord skoon te maak. Dit vergemaklik skottelgoedwas. Ek hou daarvan om my proe-kliere tevrede te stel vir die funksies waarvoor dit geskep is. Ek verkies dit dat Spur nooit, maar nooit, sy deure sal toemaak nie, so ek bevorder dus ook werkskepping."
En wie is ek anyway om te stry met die inventor, Kersvader, die dikste van ons almal?!
Ek haat dit wanneer die wêreld na my groot agterstewe kyk, en sy eie berekeninge maak oor hoekom ek Oprah-arms het.
Shame, sy's seker depressief. Of shame, geen selfbeheersing daar nie. Of shame, sy probeer 'n gap vul met kos.
Se voet, man! Ek hou van eet! So waar as vet.
Op daardie noot, gelukkige Kersfees. Onthou vir Kersdag: 'n Broek met 'n rek werk die beste!