Eersteklas jý in jou pouse-groep

  • 4
    like dit
  • 0
    like dit nie

Liewe Jipper, in watter kliek is jy?

Jy sal weet waarvan ek praat as ek sê kliek. Jy kry mos daai groepies by die skool wat pouse saambondel. Mense koppel gewoonlik dadelik 'n naam aan dié saamkoekers deur net na hulle te kyk.
Leerders stereotipeer mekaar nog altyd. Ek gee jou 5 sekondes om aan 'n paar groepies by jóú skool te dink. Nie moeilik nie, nè?

En in watter groepie val jý? Want die meeste van ons kliek mos ook in by 'n groepie waarby ons pas.

Die klieks wat dikwels uitgeken kan word, lyk min of meer soos by my skool:

Daar's die populars. Dis gewoonlik die plankdun, mooi meisies wat glo nie eens 'n druif vir ontbyt wil eet nie, want hulle is altyd op "dieet". Dié groepie meisies is die rolmodelle van die jonger meisies by die skool. Dink maar aan Serena en haar troppie in die reeks Gossip Girl.

Dan kry jy die jocks. Ja, dis die ouens in jou klas wie se woordeskat min of meer bestaan uit die woorde "ou", "awe" en "hosja". Dié ouens se lewe draai gewoonlik net om rugby, meisies, windjies laat en slaap.
Volgende is die emo's. Dis daardie groep seuns of meisies wat hul hare pikswart kleur, meer as agt oorgaatjies het, geen emosies wys nie en met kuiwe wat in hul gesigte hang, hul oë wegsteek. Dié groep dra dikwels swart skinny jeans of oorgroot sneakers en luister na heavy metal.

Die "pliggies" is volgende in die ry. Dis hulle wat altyd getrou hul huiswerk doen en hard leer vir toetse. Dié groep bank nooit klas nie en dra dikwels lees- of kykbrille. Dis die kategorie waarin ék val dié.
Dan is daar ook die couples. Daardie seuns en meisies wat met iemand uitgaan, nie regtig aan 'n groep of kliek behoort nie en dan pouses aan mekaar hang onder die bome.

En laastens is daar die wannabes. Dié groep wat heeltemal te hard probeer om iets of iemand te wees wat hulle definitief nié is nie. Hulle is dikwels mean, of opsetlik eienaardig, met die gevolg dat hulle ook nie juis iewers inpas nie.

Maar Jipper, wat het geword van doodgewone plat-op-die-aarde klieks? Hoekom kan almal nie maar net hulself wees en hul eie trend begin nie? William Shakespeare het die eksistensiële krisis opgesom waarmee baie van ons tieners sit: "God has given you one face, and you make yourself another."

Ek begin dink dis makliker om maar net myself te wees. Dit sal beteken dat ek aan die einde van my hoërskoolloopbaan nie 'n paniekaanval kry as my kliek skielik uitmekaar spat nie.
So sal ek ook verseker weet wie ék is wanneer ek vir oulaas by die skoolhek uitstap.

Dis soos Judy Garland (sy was mos in The Wizard of Oz) gesê het: "Wees altyd 'n eersteklas-weergawe van jouself, eerder as 'n tweederangse weergawe van iemand
anders."

Lizelle is in gr. 11 by die Hoërskool Middelburg.

Gebruikers Kommentaar (0)

Naam: Epos adres:

Lewer Kommentaar