Die Tegniese Skool Drostdy se eerste rugbyspan is Woensdag as die Bolandse o.19-skolekampioen gekroon toe beker-eindstryde vir die eerste keer in die Bolandstadion op Wellington plaasgevind het.
Die Worcester-span het die Hoërskool Schoonspruit in die eindstryd van die Premierliga 37-25 geklop.
Hawston het Bredasdorp 30-12 afgeransel om as die beste span in die Overbergstreek aangewys te word, en die HS Groendal het met sy naelskraapse oorwinning van 14-13 oor die HS Bergrivier die Wynlandstreek se beste span geword. (Die spanne vir die onderskeie eindstryde is op grond van bepaalde interne voorskrifte benoem deur die Boland se hoërskole-unie.)
Die beslissende kragmeting in die Premierliga was 'n wipplankstryd waarin die spel deurentyd in 'n geweldig hoë tempo was. Drostdy se voorspelers het algaande die oorhand gekry sodat die Worcesteriete met hul verdeling van ses drieë teenoor drie uiteindelik as waardige oorwinnaars van die veld gestap het.
Hawston se groter vaart agterlangs het die weg gebaan vir sy maklike oorwinning oor Bredasdorp. Groendal, wat vir driekwart van sy wedstryd teen Bergrivier agtergeloop het, het met twee drieë in die laaste tien minute die knoop deurgehak.
Ook in die WP is net enkele wedstryde nog die afgelope week in die stuiptrekkings van die afgelope rugbyseisoen afgehandel.
In die Hoërskool President se McCarthy Toyota-rugbytoernooi verlede Woensdag het die gasheerspan 12-26 teen die Hoërskool D.F. Malan vasgeval, en Durbanville het met 33-7 oor gans te veel skietgoed vir Milnerton beskik.
Die HS Excelsior in Belhar sal in November as 'n tweede Wes-Kaapse verteenwoordiger in Rustenburg aan die eindronde van die landwye @lantic-sewestoernooi gaan deelneem ná sy onoorwonne segetog Saterdag op 'n saamtrek van 16 sewemanspanne uit die WP en die Boland op Ericapark. Excelsior het in die eindstryd 24-17 met Schoonspruit afgereken.
Die HS Tygerberg het in 'n sewemantoernooi vroeër vanjaar reeds sy plek in die eindronde van die @lantic-kampioenskapstoernooi bespreek.
Dit is die einste Tiere-span wat verlede Dinsdag in Bellville die TygerBurger-en-Boeke 24/7-sewestoernooi vir die skole in die WP se noordelike stadsgebiede gewen het.
En Saterdag is die HS Tygerberg op Bredasdorp in die Overberg Agri/Santam Landbou-sewestoernooi in die eindstryd op verrassende wyse 24-22 deur die HS Klein Nederburg geklop.