Terwyl jy jou klere inpak vir jou volle drie weke winter-vakansie dink jy aan elke chocolate of milkshake wat jy geïgnoreer het om mooi te lyk in jou swemklere.
Jy het hard gewerk in jou kwartaal en jy is tevrede met jou punte, maak nie saak wat jou ouers of onderwysers sê nie, jy sal volgende kwartaal weer skouer aan die wiel sit. En dan klim jy in jul motor en sê vaarwel vir die ou dorp wat jy jou tuiste noem . . .
Al is dit nou wel winter, sal niks jou keer om see toe te gaan nie. Die weer gaan nie saamspeel nie, maar daar is 'n hele paar ander voordele.
Jy lê een middag rustig onder die bewolkte lug en bewonder die natuurprag van ons land. Seriously mense, hoeveel perfekte ouens en meisies is daar in die land en hoekom is die strand nou juis die bymekaarkomplek vir die hotties?
So nou en dan maak jy jou oë oop, maar meestal is dit toe en later bevind jy jou in droomland saam met vlieënde roomyse en surfboards. En tussen al die vreemde vlieënde voorwerpe sien jy 'n Griekse god wat iets uit sy pragtige mond sê en dit klink soos: "Is jy oukei?" En dan lag hy half ongemaklik.
"Is jy wakker?" 'n Druppel water val op jou wang en jy maak jou oë oop. Jy het nou wel gedroom, maar hoekom staan die Griekse god nog voor jou?
Dan haal jy jou sonbril af om seker te maak jy sien reg. Die Griekse god bars skielik uit van die lag.
"Weet jy hoe rooi is jy? Weet jy nie dat 'n mens nooit in hierdie weer kan tan nie?"
Die woorde tref jou meteens en jy onthou dat jy aan die slaap geraak het op die strand.
Soos die gedagtes deur jou kop maal en die perfekte woord soek wat jou voorkoms op die oomblik kan beskryf, gryp jy jou handdoek en handsak en drafstap huis toe.
"Vlieg in jou maai," dink jy hardop toe hy "Rooi meisie!" agterna roep.
"Nee, Pa, ek sit nie weer my voete by daai deur uit nie," brom jy die volgende oggend toe jou pa die voorstel maak dat julle 'n natuuruitstappie onderneem.
Hy sê kastig 'n mens sien nie jou rooigebrande vel raak nie. Ja, right, en sy grys hare seker ook nie.
"Julle almal kan gaan. Ek sal heeldag net hier bly vir ingeval daar iets opwindends op televisie is," maak jy verskoning.
Net toe jy met 'n lekker kombers, Milo, warmwatersak en popcorn voor die televisie ingerig is, is daar 'n klop aan die deur. Jy sug eers en dan sleep jy deur toe en ruk dit oop.
"Jy het dit op die strand vergeet," sê die Griekse god en stap sommer in.
"Kom gerus in," sê jy sarkasties en hou die deur oop terwyl jy jou selfoon ondankbaar vat.
"Ek is jammer ek het jou ‘Rooi meisie' genoem, maar ek ken nie jou naam nie. Dis ook nie al wat ek wil weet nie. Ek wou weet of jy saam met my na die stal toe sal gaan. Vanaand 21:00?"
"Nee," is jou eerste gedagte. "Kyk, hoe lyk ek," is jou tweede, maar jou derde een is: "Já," en oorheers almal. "Ja seker, as jy nie skaam gaan wees vir my clownfish-look nie," sê jy.
"Dis darem 'n theme party," sê hy en lag. "Maar buiten dat jy baie rooi is, sal jou tan weggaan en jou outstanding persoonlikheid bly?" vra hy. "Ja, dit sal seker, nè?" glimlag jy terug.